05 Maart 2015

DIE GROOT TREK EN AFRIKAANSE GESEGDES

Hoekom het hulle getrek ?

Sien Piet Retief se manifes gepubliseer in die Grahamstad koerant.


Manifes opsomming:
1.   Sien nie meer hoop vir die land onder die swak Engelse regering nie.
2.   Kla oor die ernstige verliese gely met die eensydige vryverklaring van slawe.
3.   Kla oor die aanhoudende plundering van plase deur die nie-blankes.
4.   Kla oor die oneerlike politieke sendelinge wat hulle aanhoudend belaster.
5.   Verklaar hulle voorneme om die beginsels van Vryheid hoog te hou.
Piet Retief
6.   Verklaar hul begeerte om ‘n rustiger lewe as tot dusver, te mag lei .
7.   Onderneem om afskrifte van hul nuwe land se wette beskikbaar te stel.
8.   Verklaar hul begeerte om in vrede en vriendskap met hul bure te lewe.
9.   Hul trek weg met die wete dat die Engelse niks meer van hulle te vorder het nie.
10. Hulle verlaat hulle geboorteland waar hulle enorme skade gely het, om hulle te gaan vestig in ‘n woeste gebied, met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en genadige God, wat hulle in nederigheid sal dien en gehoorsaam.


Waarmee het hulle getrek ?
 Ossewaens.

Hulpmiddels: Rieme, swepe, Voorlaaier gewere
vir verdediging en jag.

Die OSSEWA:
Was die Trekker se woning, sy slaapkamer, sy siekekamer, sy sterfkamer. Met die Bybel in die wa-kis, was die wa sy huis-altaar en sy kinders se skool-kamer. By geleentheid was die wa sy Nagmaalstent op Kerkplein. Dit was ook sy jagtershut. Dit was sy vervoermiddel en sy transport. En in oorlogtyd was dit sy fortifikasie teen enige aanslag.

Oor die land van alle lande, lê ‘n wapad geborduur. - Dis die kerwe van die bande uit die wamaker se vuur.     

Die WAWIEL:
‘n Uitnemende voorbeeld van Boere-vaardigheid en vernuf.
‘n Wiel met 14 speke, bestaan uit 26 verskillende dele, wat saamgevoeg is tot ‘n
soliede eenheid, sonder hulp van gom of lym.

As ‘n wa ‘n vrag op het van vier ton, dra elke wiel ‘n gewig van een ton. Dit verklaar waarom speke van besonder sterk hout gemaak moes wees.

As die speke na ‘n lang tyd begin losraak het, was dit om een van twee redes. Die yster waband het gerek, of uitdroging van die hout. Natgooi van die wiele het tydelik gehelp. Daar kon ook wiggies ingeslaan word.

Die wiele kom aan die twee aste, voor en agter. Die voorwiele is kleiner , omdat hulle onder die wa se buikplank moet kan in krink, Vroeër dae is die aste ook van ysterhout gemaak, net soos die stelle, maar later is yster-aste van Europa ingevoer. Bo-op elke asbalk kom ‘n skamel, en saam vorm dit ‘n stel, voor en agter. Die langwa is ‘n balk wat onderdeur die wa loop om die voor- en agterstel aanmekaar te hou.

Aan die voorstel is die voor-tang waarin die disselboom skarnier, op en af, en die agtertang, waarin die langwa skarnier, heen en weer. Aan die agterstel is die agterpunt van die langwa vas.
Bo-op die skamels staan die skamel-kloue, ook genoem ronge, wat die wa se bok, oftewel bakwerk, in posisie hou. Hierdie beweegbare ontwerp het gesorg dat niks breek wanneer die wa oor baie ongelyke terrein beweeg nie.

Die Groot Trek se kakebeen-waens is gebriek met remskoene, onder die agterwiele, en wat met ‘n ketting vas was aan die bakwerk. Latere transport waens het yster brieke gehad agter, waarmee die briekblokke teen die wiele kon vasgedraai word met ‘n slingerarm. In die geval van muile- en perdewaens, is die briekslinger verskuif na voor langs die drywer se sitplek.

Die Groot Trek se waens is met spanne osse getrek, tien tot twaalf osse per span.
In ander lande, soos Amerka, is perde gebruik. Osse kan swaarder vragte trek, alhoewel stadiger, hulle is nie so senuweeagtig nie, en hulle kan geëet word as hulle trekdae verby is. Ook is hul velle en ander produkte baie meer bruikbaar.

Trek-osse is uitgesoek vir hulle plek in die span. Elke os het ‘n naam gehad, en hy het langs ‘n maat in dieselfde juk getrek. Twee-twee moes hulle bymekaar pas en gelykwaardig wees. Agterosse moes groot en sterk wees, want hulle het ook nog die disselboom se gewig gedra. Voorosse weer, moes intelligent wees en vinnig reageer op die drywer se stem.

‘n Os se naam het gepas by sy voorkoms, sy geaardheid of sy herkoms. Dit moes lekker geroep kon word, en het gewoonlik geëindig met een van vier woorde, -berg,
-land, -man, en -veld. Soos Rooiberg, Swartland, Speelman, Bontveld.

‘n Span geleerde trekosse kon deur een man ingespan word. Die tradisionele roep om hulle bymekaar te kry, was Hoi, hoi. Dan kom staan hulle in ‘n ry, koppe bymekaar, en wag om die riem om die horings te kry.

Die posisies is bepaal deur van agter (wa se kant) te tel. Dus, hot agter, haar agter; hot naasagter, haar naasagter; hot op ses, haar op ses; hot op agt, haar op agt; hot op tien, haar op tien; hot naasvoor, haar naasvoor; hot voor, haar voor.

Dis dus te verstane dat ‘n span nie sommer van die veld af gevang kon word nie maar was dikwels die resultaat van ‘n teel-program. My pa het twee mooi eenderse agterosse gehad, kruisings tussen Afrikaner en Hereford. Hulle het die Afrikaner-lyf gehad maar met wit gesigte. Die twee se name was Gentelman en Engelsman. Dit het lank geneem om jong osse mak te kry en gewoond aan die juk.

Dit gesê, kan nou verstaan word watter krisis op ‘n plaas sou ontstaan, as ‘n rowerbende in ‘n nag sou toeslaan en die plaas se beeste roof. Die trek-osse weg, die melkkoeie vir die kinders se melk, weg. Miskien nog die boer se ryperde ook. Dan kan ‘n mens begin begryp waarvan Piet Retief praat as hy die groot skades noem wat hulle gely het weens die rowers.

Die speelgoed van daardie jare se kinders, het ook die grootmense se werksgoed nageboots. Soos die kalfskakebeen met ‘n span dolosse voor.

SWEPE EN ANDER SLAANGOED:
As ‘n mens met diere wil werk moet jy eers hulle aandag kry, soos die ou gesê het wat die muil oor die kop geslaan het met ‘n stuk hout.

Oom Burger Gericke van George het 15 soorte slaangoed geïndetifiseer, wat tradisioneel ontwikkel het, volgens behoefte. Van die katteswepie agter die kombuisdeur, vir wanneer die huisvrou die kombuis ‘n slag wou skoonkry van katte, kinders, hoenders en die hansvark, tot die viervaam wa-sweep vir ‘n span van sestien.

Op die Groot Trek is die wa-swepe gebruik deur die drywers van die spanne, gewone karwatse vir aanjaag van vee, en dan die ruiter-sambokkie en kort karwats, vir wanneer vee te perd aangejaag word. Daar was nie perdekarre of –waens op die Trek gebruik nie.

Laastens, is dit interessant om te kyk hoeveel gesegdes in ons taal vandag, hul oorsprong het in die ossewa-tyd: 
Hy trek nou-strop, of bo-kerf.
Hy het tou opgegooi.
Hy kry dit hotagter.
Hy span jongosse in.
Hy sny dik rieme uit ‘n ander man se vel.
Hy ploeg met ‘n ander man se kalwers.
Hy is ‘n voorslag.
Hy klap die sweep.
Hy is ‘n klein jukskei met ‘n groot kop.
Hy is ‘n lunsriem.
Hy is ‘n vyfde wiel aan ‘n wa.
Hy is dwarstrekkerig.
Hy is ‘n skei-breker.

Geskryf deur Hoffie Williams
(Foto's - www.sahistory.org.za)