Doel

Ons gemeenskaplike doel en passie is die optekening van familiegeskiedenisse, die geskiedenis van die omgewing waarin ons woon en werk en die uitruil van inligting en wenke rondom genealogie.

Die word "genealogie" is afgelei van die Grieks "genos" (geslag of familie) en "logos" (woord of rede of kennis).

In vervloë dae was familiegeskiedenis onder Europese adel van groot belang vir die toekenning van erflike titels (asook die soms gepaardgaande rykdom) en die reg op gebruik gebruik van ‘n sekere familiewapen. Groot klem is ook gelê op die afkoms van jongmannne en -dames met die oog op ‘n huwelik.

 Vandag is genealogie ‘n gewilde stokperdjie in Suid-Afrika en die redes waarom dit beoefen word net so verskillend soos die mense wat daaroor navorsing doen.
Enkele redes kan wees:
-        Om vas te stel of ‘n familiewapen gebruik mag word

-        Om verwantskap tussen familielede te bepaal

-        Om uit te vind waar die voorsate vandaan kom bv. Duitsland

-        Om afkoms van ‘n groep soos die Hugenote, Voortekkers of 1820 Setlaars vas te stel

-        Om inligting aan nasate oor te dra deur ‘n volledige familiegeskiedenis of stamboom saam te stel of om ‘n publikasie, soos ‘n boek, die lig te laat sien
Volgens Benjamin Franklin, (1706 – 1790): “If you would not be forgotten as soon as you are dead, either write things worth reading or do things worth writing”....

Dikwels gebeur dit dat nuweling navorsers te staan kom teen, wat algemeen bekend staan as, ‘n “brickwall” en dan belangstelling verloor, sonder om te besef dat daar maniere is waarop inligting verkry kan word en die person net ‘n klein bietjie hulp nodig het. Die inligting wat reeds versamel is word dan ook nie met ander gedeel nie en waardevolle bydrae tot die genealogie kan op hierdie manier verlore raak.

Om verby so ‘n “brickwall” te kom is soms moontlik wanneer by ‘n geselsgroep aangesluit word en kan baat by kundige lede wat soortgelyke probleme reeds opgelos het. In Jeffreysbaai kom die Genealogie  Geselsgroep een keer per maand byeen om mekaar te help om voorouers en ander familie op te spoor. Daar word gepoog om interessante en stimulerende debatte oor aspekte in die genealogie aan te moedig. Soms word sprekers genooi om praatjies te lewer oor genealogie, die omgewing of ander verwante onderwerpe.
Onder die lede is bekwame manne en vroue wat genealogie al jare lank beoefen en hulp kan gee met ‘brickwalls” maar daar is ook nuwelinge en word ook vir beginners voorsiening gemaak.
Die doel van die groep is verder om:

-        Idees uit te ruil sodat genealogiese doelwitte bereik kan word

-        Om dit in ‘n gemaklike informele atmosfeer te doen waar vriende gemaak kan word

-        Om kennis met mekaar te deel.

Die groep is passievol oor genealogie en wil graag meer mense daaraan bekendstel en daarom is besoekers baie welkom.