21 November 2015

Die Kaapse Koper Maatskappy Medalje vir die Verdediging van O'okiep

Voorkant


Agterkant                                   


Toegeken deur die Kaapse Koper Maatskappy Beperk

Staat:               Kaap de Goede Hoop
Tipe:                Kampanje medalje
Geldigheid:     O'okiep Garnisoen lede

Toegeken vir Verdediging van die dorp gedurende die Beleg van O'okiep in 1902

Kampanje:       Tweede Boere-oorlog
Status:              Nie-amptelik
Statistieke:
Ingestel 1902

Totaal toegeken:   18 Silwer , 537 Brons

Verwant aan:   Queen's Suid Afrika Medalje
                         King's Suid Afrika Medalje

In die Kolonies en Boere Republieke, wat later Suid-Afrika geword het in 1910, was daar verskeie nie-amptelike dekorasies en medaljes wat gedurende die negentiende en vroeë twintigste eeue ingestel en toegeken was. Die Kaapse Koper Maatskappy Medalje vir die Verdediging van O'okiep is ‘n private kampanje medalje wat deur die Kaapse Koper Maatskappy Beperk ingestel was in 1902. Die medalje was aan lede van die O'okiep Garnisoen toegeken wat die dorp verdedig het terwyl dit onder beleg was deur Boere kommandos vanaf 4 April tot 4 Mei 1902 gedurende die Tweede Anglo Boereoorlog..

Die Kaapse Koper Maatskappy:

Die Kaapse Koper Maatskappy het sy oorsprong gehad in die Kaapse Koper Myn Maatskappy wat gedurende 1862 of 1863 as die Kaap van Goeie Hoop Koper Mynmaatskappy gevestig was om die kopermynbelange van Phillips & King, wat in die omgewing van O'okiep in Namakwaland sedert die 1850s betrokke was, oor te neem. Dit is in 1888 herstruktureer as die Kaapse Koper Maatskappy.

Die Beleg van O'okiep:

Die Kaap de Goede Hoop was aan die einde van die Tweede Anglo Boereoorlog, deur Boere kommandos binnegeval en die dorp Concordia, ‘n paar kilometer noord van O'okiep, het op 4 April 1902 aan die Boeremagte oorgegee.

Die dorp O’okiep was vanaf 4 April tot 4 Mei 1902 deur Boeremagte, onder bevel van Genl. Jan Smuts beleër, wie se strategie dit was om op die ryk kopervelde beslag te lê en sodoende die Britte te forseer om troepe vanaf Kaapstad na O’okiep te stuur, wat Kaapstad self dan kwesbaar sou maak vir aanvalle deur die boere.

Die garnisoen van O’okiep, onder bevel van Lt. Kol. W.A.D. Shelton DSO, het uit sowat 900 manne bestaan, plaaslike myners ingesluit, wat Shelton se troepe ondersteun het. Die burgerlike verdedigers het meestal uit werknemers van die Kaapse Koper Maatskappy bestaan, waarvan driekwart Gekleurdes was.

‘n Ketting van Blokhuise en ander verdedigings meganismes was voorberei en tydens die vroeë periode van die beleg, het die garnisoen daarin geslaag om verskeie vasberade aanvalle deur die kommandos af te weer. Met Smuts se vertrek na Vereeniging om aan die vredesooreenkoms met die Engelse deel te neem wat gelei het tot die einde van die oorlog, het die O’okiep beleg nie veel meer as ‘n “humoristiese blokkade” geword nie.


Die lokomotief “Pioneer” het buite O'okiep ontspoor na die Boere kommando se aanval op die dorp.
Op 1 Mei 1902 het die boere kommandos ‘n aanval op O’okiep geloods, waartydens hulle van die opgekommandeerde lokomotief “Pioneer” van die Concordia Namakwa Koper Maatskappy, gebruik gemaak het om ‘ n mobiele bom in die vorm van ‘n wavrag dinamiet na die beleërde dorp te aan te dryf.
 
 

Die beskermingsmeganismes by O’okiep het o.a. bestaan uit ‘n hakiesdraad versperring wat oor die treinspoor by Braakpit aansluiting, net noord van die dorp, gespan was.

Die punte by die spooraansluiting was aan die heining geheg, met die gevolg dat toe die dinamietbelaaide wa daardeur wou breek, dit ontspoor het en sy volle vrag op die grond afgelaai het, waar dit onskadelik uitgebrand het sonder om te ontplof.

Volgens Jan Smuts was die “ontploffing” slegs bedoel om die inwoners ‘n geweldige, skadelose skrik op die lyf te gee, sonder om die vroue en kinders in die dorp in gevaar te stel. Die dinamiet was volgens hom nie gelaai met plofkoppe nie.

Medalje vir die Verdediging van O’okiep:

Na die beëindiging van die oorlog het die Britse regering die Queen's Suid Afrika Medalje aan al die gereelde troepe wat aktiewe diens in Namakwaland gelewer het, toegeken, sowel as die Kings Suid Afrika Medalje aan diegene wat op of na 1 Januarie 1902 diens gelewer het en 18 maande diens voltooi het voor 1 Junie 1902. Toe dit aan die lig kom dat die Swart & Gekleurde lede van die O’okiep garnisoen uitgesluit was van bg. toekennings, het die Kaapse Koper maatskappy besluit om hul eie medalje te slaan en aan al die verdedigers van die dorp toe te ken, ongeag ras.

Twee weergawes van die Kaapse Koper Maatskappy se medalje vir die verdediging van die dorp was gegiet. Die meerderheid was in brons gegiet en aan die militêre en siviele verdedigers van die dorp toegeken, waarvan die meeste mynwerkers was.

‘n Silwer medalje was aan offisiere, hoë mynbeamptes en minstens een onderoffisier, sersant Harry Rodda, wat ook die betaalmeester van die O’okiep Koper Maatskappy was, toegeken.

Brons medalje


Silwer medalje
                                                                       

Beskrywing:


Voorkant:


Die Kaapse Koper Maatskappy Medalje is in silwer of brons gegiet, 36.5 millimeter in deursnee met ‘n opgehewe rand. Dit stel die omringde Maatskappy embleem voor - ‘n myner wat met gekruisde bene staan, ‘n graaf in sy regterhand vashou en sy linkerhand op ‘n vierwiel koekepan. In die agtergrond is ‘n koppie met die opkomende son daaragter. Aan die onderkant is ‘n inskripsie 1888 met die woorde "THE CAPE COPPER COMPANY LIMITED" rondom die boonste buiterand.

Agterkant:


Die onderkant is glad met’n opgehewe rand met die volgende ingrif : "PRESENTED TO THE OFFICERS, NON-COMMISSIONED OFFICERS AND MEN OF THE GARRISON OF OOKIEP IN RECOGNITION OF THEIR GALLANT DEFENCE OF THE TOWN UNDER LT. COL. SHELTON. D.S.O. AGAINST A GREATLY SUPERIOR FORCE OF BOERS APRIL 4TH TO MAY 4TH 1902".


Gravering:

Gewoon. Rand is gegraveer met die naam van die ontvanger.




Ophanger:

Die medalje het ‘n blompatroon ophanger, identies aan dié van die India General Service Medalje van 1936 wat in London gemint is, maar wat aan die medalje geheg is by wyse van ‘n pen wat in die boonste rand gedruk is om toe te laat dat die medalje in die rondte kan draai. By die India medalje is die aanhanger vasgeheg by wyse van ‘n klou en pen deur die boonste rand van die medalje.

Lint:


Die lint 37.5mm wyd en donker bruin met ‘n 12.5mm wye groen streep in die middel.