07 Mei 2015

KEN ONS WERKLIK DIE MENSE NA AAN ONS?

Wanneer ’n mens lank genealogiese navorsing doen, weet jy dat jy soms op inligting gaan afkom wat dalk nie vir ’n familie aangenaam en aanvaarbaar gaan wees nie. Min navorsers het dan die vrymoedigheid om daaroor te skryf en dit word dus maar liewer uit ons navorsing weggelaat. Die werklik dapper genealoog mag moontlik besluit om die soort familieinligting waarna in hierdie artikel verwys gaan word in ’n notaveld in te skryf om dit sodoende darem nie heeltemal te ignoreer nie.

Vanweë die bepalings van die nuwe wetgewig oor persoonlike privaatheid (Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting, (POPI) Wet nr 4 van 2013) is daar ook nog onsekerheid oor watter inligting ons wel mag dokumenteer. Myns insiens is dit belangrik om ’n benadering te volg wat feitelikheid beklemtoon, en om te sorg dat die inligting wat jy gebruik gestaaf kan word deur brondokumente wat aan die publiek beskikbaar is. Die ongemaklike dinge in ons stambome moet met eerlikheid benader word en moet deel uitmaak van dit wat vir die nageslag geboekstaaf word.

Ons sien soms in TV-programme of lees in tydskrifartikels van die opwinding van die eerste ontmoeting wanneer familielede mekaar na baie jare opspoor. Vir Anna (my ouma aan moederskant) was dit te laat. Vir ons wat agterbly is daar nog tyd en geleenthede.

In hierdie artikel vertel ek graag van ’n soektog na inligting en die betrokkenheid van baie kenners wat kon help om die skynbaar onmoontlike moontlik te maak. Tydens hierdie proses is baie mense se lewens geraak en was daar waarskynlik meer vrae as antwoorde.

Ouma en Maritha: Die vraag
Nadat kanker in 2008 vir die tweede keer by my ouma, Anna Petronella (neé VAN DEVENTER), gediagnoseer is, het ek besef dat ons die beste moes maak van die tyd wat nog oor was en het ek haar oor haar familie begin uitvra. My vorige navorsing was slegs op die Coreejes-familie toegespits, en nou was daar ’n nuwe uitdaging, want na die afsterwe van die laaste Van Deventer uit my ouma se lyn sou daar baie onbeantwoorde vrae wees. My vorige poging om meer oor die Van Deventers uit te vind was in 1999, en toe het ek nie verder gekom as om net ’n paar tegniese vrae oor name en datums te vra nie.

’n Vriendin in die GGSA het aan my genoem dat die Van Deventers in 2008 ’n nuwe boek sou uitgee en het my aangeraai om dit aan te skaf om my met my navorsing te help. Ek het sommer dadelik met die Van Deventer-bond se kontakpersoon geskakel en ’n kopie bestel. Kort nadat ek my e-pos aan Johan van Deventer geskryf het, het Louw van Deventer my gekontak om ’n bietjie meer te gesels. Ek het dit baie waardeer en was opgewonde om te weet dat ek nou die regte mense leer ken het wat my in my eie soektog sou kon help. Louw het ook die gedeelte van die boek wat met Anna se familie verband hou per e-pos aan my gestuur.

In Januarie 2009 het ek een Sondag weer ’n oproep van Louw ontvang. Hy wou raad hê oor die beste manier om iemand wat op sterwe lê te nader om inligting te verkry ‘oor ’n kind wat vir aanneming opgegee is en wat op soek was na inligting oor haar biologiese pa’. Ek was self onseker oor hoe om dié kwessie aan te pak, maar het aanbeveel dat hy die persoon persoonlik moes kontak, aangesien hy ’n navorser is en dus geen noue kontak met die res van die persoon familie gehad het nie. Twee dae later het hy weer gebel en gesê: ‘Jou ouma is in die hospitaal en ek kon nie met haar praat nie.’ Ek het toe aan hom erken dat ek vermoed het dat dit dalk van my ouma was wat hy gepraat het en het onderneem om uit te vind wie die vader van haar dogter Maritha was. Hierdie inligting is nooit op haar geboorte sertifikaat ingevul nie en sy het reeds meer as 65 jaar lank daaroor gewonder.

Louw het die volgende dag inligting oor die dogter, wat nou buite die grense van Suid-Afrika woon, aan my gegee en daarna het daar daagliks korrespondensie tussen my en Maritha gevolg, met Louw as ’n angstig toeskouer. Dit was uiters bevredigend om met ’n kenner en ’n persoon wat ’n passie vir genealogie en hierdie familie het saam te werk. Ek het iemand gehad met wie ek kon gesels en wat saam met my opgewonde geraak het oor nuwe inligting en die foto’s wat sommer al gedurende die eerste week per e-pos aan my gestuur is.

Maritha het mooi gevra dat ons moes probeer vasstel wie haar pa was en Louw en ek wou haar baie graag help. ’n Mens kan dus sê dat my ’opdrag’ was om die man se identiteit te ontdek. Louw het tussen 2001 en 2003 vir Maritha gehelp om haar ma (my ouma) op te spoor en gedurende dié tyd het hulle reeds per brief met mekaar gekorrespondeer, wat die taak beslis makliker sou maak.

Gewapen met foto’s, e-posse, afskrifte van geboortesertifikate en selfs ’n afskrif van ’n brief wat my ouma in 2003 aan Maritha geskryf het, het ek toe, onderskraag deur my ma, gereed gemaak om die moeilike vraag te gaan vra. Ek was deeglik bewus daarvan dat die aanvoorwerk uiters versigtig en met die nodige sensitiwiteit aangepak sou moes word. Oor die jare heen was daar ’n baie hegte band tussen my en my ouma en ons kon altyd baie dinge deel en lekker gesels.

Op ’n Sondagoggend het ek met my skootrekenaar by ouma Anna in die bed geklim en begin deur vir haar foto’s te wys van die grafte van haar ma, en ook dié van haar ouma en oupa in haar geboortedorp. Die gemaklike atmosfeer wat daar tussen ons geheers het het dit vir my moontlik gemaak om ook vir haar ’n foto van Maritha, haar aanneemouers, kinders en kleinkinders te wys. Ek kon haar vertel dat ek kontak met Maritha gemaak het en dat ons via e-pos lekker met mekaar gesels.

My ouma was so gemaklik dat sy self begin vertel het van wat sy as ’n kind in ’n klooster in Pleinstraat in die Kaap deurgemaak het. Sy het nooit eens die geleentheid gehad om van haar dogtertjie Maritha afskeid te neem nie. Haar grootste begeerte – om net ’n foto van Maritha te kon sien – is nou na soveel jare vervul! Maar die belangrike vraag moes nog gevra word. Met ’n pen in my hand en trane in my oë het ek aandagtig geluister en die naam Alberto of Roberto Bernardo neergeskryf. Sy was nie meer seker watter een van die twee dit was nie, maar ander herinneringe uit die verlede was nog duidelik. Hy was een van die twee Italiaanse krysgevangenes (IPOW’s) uit die
konsentrasiekamp by Worcester wat in die laaste jaar van die Tweede Wêreldoorlog op haar pa se plaas gewerk het. Hy was 24 jaar oud – 10 jaar ouer as sy. Sy het vertel dat hulle mekaar baie liefgehad het, maar dat hy aangekla is en twee jaar tronkstraf opgelê is. Sy het self dikwels gewonder wat daarna van hom geword het, maar daardie antwoord sou ek ongelukkig eers ’n paar maande na haar dood kry.

Ek kon nie wag om hierdie nuwe inligting met my ma, Louw en Maritha te deel nie. Met die opgewondenheid van twee mense wat ’n groot geheim deel het ek en ouma Anna twee stukkies hekelwerk gekies wat ek aan Maritha moes stuur as ’n geskenk van haar ma. Die grootste geskenk wat ons kon stuur was egter ongetwyfeld die naam van Maritha se pa, waaroor sy sekerlik net so verbaas as ons sou wees. Ouma Anna het my mooi gevra om eers ná haar dood met die res van haar dogters oor die saak te gesels, en dit is wat ek die aand voor haar roudiens gedoen het. Na dié gesprek het hulle almal saamgestem dat baie dinge uit haar lewe uiteindelik vir hulle duidelik was.

Verdere navorsing
Ek het nou die antwoord gehad op die moeilike vraag wat ek moes vra en dit is waar die verhaal sou geëindig het as my ma nie daarop aangedring het dat ons meer moes uitvind nie. Ek het toe begin nalees oor die geskiedenis van die Italianers in Suid-Afrika in die hoop dat ek êrens inligting sou vind oor die Italiaanse krygsgevangenes wat in Worcester aangehou is. Daar was heelwat inligting oor die Zonderwater-Kamp, maar dit het my nie veel gehelp nie. My argief soektogte onder die van Van Deventer het ook niks opgelewer nie. Op daardie stadium het ek dit oorweeg om na iemand te soek wat navorsing doen oor oorloggeskiedenis in Suid-Afrika.

’n Google-soektog het my op die spoor van Emilio Coccia gebring. Een middag het ek hom uit moedeloosheid ’n paar keer gebel en het hy uiteindelik laat in die middag, net toe ek wou tou opgooi, die telefoon geantwoord. Hy kon byna onmiddellik vir my sê dat die persoon na wie ek soek Edgardo Bernardini was (* 13.3.1920 Bologna, Italië, † 1994, Italië). Hy was vanaf 10.3.1943 tot 8.12.1945 op JS van de Venter (van Deventer) se plaas La Chasseur werksaam (Militêre Museum, Pretoria WR 21/27/1, RCI 9/12/45). Dit was die eerste keer dat ek gesien het dat my ouma se van as Van de Venter aangegee is. Dit het ook so voorgekom in die dokumente oor die hofsaak, wat by die argiewe in Kaapstad en Pretoria, en by die Militêre Museum opgespoor kon word. Hierdie een oproep het nuwe feite aan die lig gebring wat uit primêre bronne gestaaf kon word.

Emilio het in 2009, na Anna se afsterwe, op ’n besoek aan Italie wel navraag gaan doen oor Edgardo. Hy het met ’n neef gesels wat bevestig het dat Edgardo reeds 15 jaar tevore gesterf het en dat hy net een seun nagelaat het. Maritha het dus ook ander familie gehad en sou met hulle kontak kon maak indien sy wou.

Wat nou nog vir ons as familie voorlê is om Maritha in lewende lywe te ontmoet. Sy is sieklik en lang tye verstryk soms sonder enige kontak. Daar is dus nog steeds vrae wat dalk nooit beantwoord sal word nie. Toe my ma by ’n vriendin van my ouma uit haar kinderjare navraag gedoen het oor Edgardo, was haar antwoord: ‘Dit was die mooiste man wat ons geken het.’ Ek hoop dat ons mettertyd nuwe inligting sal kry.

Inligting uit bronne beskikbaar
Vir ons wat ’n passie vir navorsing het, is dit belangrik om die nodige bewyse te vind om vertellinge te staaf. Dokumente in die Oorlogsmuseum het bevestig dat Edgardo Bernardini wel in die Roelandstraattronk in Kaapstad tronkstraf uitgedien het.

Die verskillende spellings van my ouma se van het ook in twee ander dokumente (KAB CSC Vol 1/2/1/263 nr 6 1946 en SAB URU Vol 2374 nr 2732 1946) in die argiewe in Kaapstad en Pretoria voorgekom. Dié twee dokumente het bevestig wat telefonies oorgedra is en wat Anna ook bevestig het.

Die SAB van 1946 bevat ’n versoek dat, aangesien die Italiaanse krygsgevangenes reeds besig was om die land te verlaat, die gevangene vrygelaat moes word sodat hy na Italië kon terugkeer en hy is inderdaad laat in 1946 vrygelaat.

Ek kon gelukking voor haar dood vir ouma Anna vertel dat ek die dokumente van die hofsaak gelees het, en toe ek sy naam genoem het kon sy dit bevestig.

As ’n mens na foto’s van Maritha en Anna kyk, kan jy duidelike familietrekke sien, en al wil jy dalk meer daarin lees as wat die kan oog sien, is dit vir die navorser ’n besondere voorreg om bronne soos hierdie onder oë te kry.
Anna ca 1947                                                                             Maritha ca 1970


Genealogie
Hieronder volg ’n kort opsomming van Anna Petronella VAN DEVENTER (ab5c4d7e4f7g6h7) se voorgeslag soos dit in die Van Deventer Familiekroniek 2008 opgeteken is, met aanvullende inligting wat deur Anna self en familielede verskaf is. Vollediger inligting oor haar nageslag kan van die skrywer verkry word.
a1 Gerrit Jansz VAN DEVENTER * Nederland, † 19.4.1728, Soutendal, Stellenbosch [sv Jan PIETERS en Maria HOOGEBOOM] x 29.10.1688, Stellenbosch, Adriana JACOBS » 25.5.1673, Rotterdam, Nederland, † Kaap [dv Jacob ABRAHAMSE en Heijltje ARIJENS]
b5 Jacob Gerritsz VAN DEVENTER * Julie 1705 x 17.4.1735 Dorothea COETZER » 19.9.1717 [dv Jacob COETZER en Cornelia HELM]
c4 Gerrit VAN DEVENTER » 11.6.1741 x 8.2.1767 Tulbagh, Maria Elizabeth VAN ZIJL » 25.12.1748 [dv Gideon VAN ZIJL en Maria Elizabeth VAN EEDEN]
d7 Willem Adriaan VAN DEVENTER * 9.5.1782, Middelvoetpad, Robertson » 5.10.1782, † 27.8.1861 Zandfontein, Robertson x Augustus 1807 Petronella
Magdalena VAN ZIJL » 16.9.1791 [dv Frederik VAN ZIJL en Suzanna Elizabeth ROSSOUW]
e4 Willem Adriaan VAN DEVENTER * 7.10.1814, »
27.11.1814 Swellendam x 26.11.1836 Swellendam, Rosa Hermina JORDAAN » 21.3.1819 [dv Johannes Lodewicus JORDAAN » 2.2.1794 en Johanna Margaretha Sophia DE KOCK]
f7 Johannes Stephanus Jacobus VAN DEVENTER * 3.5.1854 Barrydale, » 29.10.1854 Swellendam, † McGregor 4.4.1936 x 1876 Christina Margaretha JOUBERT * ca 1856, † 6.10.1931 McGregor (oorlede aan longontsteking) g6 Johannes Stephanus (Jacobus) VAN DEVENTER * 9.4.1895 Barrydale, † 10.11.1970 Robertson x 1915 Magaretha Louisa STRY(ij)DOM * 15.6.1896, † 24.8.1981, Robertson
h7 Anna Petronella VAN DEVENTER (Van de Venter in sommige bronne) *17.11.1930 Robertson, † 17.06.2009 Weltevrede, Ceres, Ω Ceres x 23.7.1949 Observatory, Bertus VAN WYK * 19.8.1928 Vondelingsfontein, Calvinia † 25.10.2004 Weltevrede, Ceres Ω 28.10.2004 Ceres [sv Johannes Adriaan VAN WYK, *8.8.1894, † 8.1.1977 Calvinia x Calvinia, Susanna Francina KOTZE, * 29.10.1892 Kenhadt, † 3.8.1955 Calvinia]
Anna se nageslag bestaan uit vyf dogters, 11 kleinkinders en 13 agterkleinkinders, wat Maritha en haar nageslag insluit.
Dogter van Anna en Edgardo BERNARDINI 1945:
I. Maritha VAN DE VENTER, * 14.10.1945 Kaapstad.
Aangeneem op 26.11.1945 in Kaapstad deur ’n Rhodesiese (Zambiese) sendelingpaar, Ivan en Lorraine (Sertifikaat van aantekening van aanneming nr 11088 1945). Haar naam is op 7 Januarie 1946 verander, maar vir my ouma was sy altyd Maritha.

Bronnelys
Brink, P. & L. van Deventer. 2009. Who is my father!? De
Juffraauw Anna, Vol 19, Aug 3-4.
Ferreira, I. 2009. Italian footprints in South Africa / Sulle
orme degli italiani in Sudafrica. Auckland Park: Jacaranda
Media.
Sertifikaat van aantekening van aanneming ingevolge Wet
nr 31 van 1937, nr 11088
Van Deventer, Johan C. 2008. Die Van Deventer
Familiekroniek. Pretoria. jcvd@wbmail.co.za.
Zonderwater Block, SA. 1992. History of the Italians in SA.
Edenvale: Isando Press.
Argivale bronne
KAB CSC Vol 1/2/1/263 nr 6. 1946. Argiefbewaarplek,
Kaapstad
SAB URU Vol 2374 nr 2732. 1946. Nasionale
Argiefbewaarplek, Pretoria.
Dokumente vanuit die Militêre Museum, Pretoria, WR
21/27/1, RCI 9/12/45.
Mondelinge en e-pos-bronne:
Emilio Coccia, Pretoria, noh2o@gam.co.za
Louw van Deventer, Klerksdorp, louwmien@lantic.net
In persoonlike besit: Korrespondensies via e-pos, 2001 tot
2009.

Petro Coreejes-Brink is in 1973 in Bellville, Wes-Kaap gebore en het haar skoolloopbaan by laer- en hoërskole in Brackenfell voltooi. Daarna het sy aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, waar sy die B.Bibl. Hon BA en 'n meestersgraad in Kultuurgeskiedenis verwerf het. Petro is met Sybrand Brink getroud en hulle het twee kinders. Haar navorsingsbelangstelling is die vanne Coreejes, Pheiffer en Van Sittert. Sy was enkele jare lank in ’n bestuurshoedanigheid op beide tak- en nasionale vlak by die SA Vereniging vir Kultuurgeskiedenis betrokke.
Tans is Petro Voorsitter van GGSA.
Petro Coreejes-Brink coreejesp@cput.ac.za