15 April 2015

ENGELSE FORTE, LONGMORE PLANTASIE, NABY THORNHILL, OOS-KAAP

Tydens die Tweede Vryheids-oorlog tussen die Boere-Republieke en die Engelse 1899 – 1902, is daar aan Boerekant besluit dat Kaapland binnegeval moet word, o.a. om druk op die Vrystaat en Transvaal te verminder, en om steun onder die Kaaplandse Afrikaners te werf.

Genl. Jan Smuts het toe met ‘n kommando die Oranje-rivier oorgesteek êrens in die omgewing van Aliwal Noord, en suidwaarts getrek. Daar is gevorder tot op die Suurberg, naby Kirkwood, vanwaar hulle toe wes gedraai het in Jansenville se rigting. In Port Elizabeth het ontsteltenis geheers onder die Engelse, omdat niemand geweet het waar die “vyand” die volgende kon uitslaan nie.

Foto verskaf deur Hoffie Williams
‘n Deel van Port Elizabeth se water-voorraad het destyds gekom van twee damme in die bo-lope van die Van Stadensrivier, binne die terrein waar die Longmore plantasie vandag is. Hulle stuur toe ‘n afdeling van die Town Guard om die damme te gaan bewaak, teen sabotasie.

Dit moes seker maar ‘n vervelige besigheid gewees het, met niks om te doen nie, en in die tyd bou hulle toe drie klip-forte, twee by die boonste dam, en een onder. Die onderste een is sigbaar vanaf die trein-brug oor die Van Stadens-kloof. Om by die boonste twee te kom, moet ‘n mens die plantasie-paadjies ken. Al drie forte is nog in redelike goeie toestand behalwe vir skade deur bobbejane, kwaaddoeners en bome wat tussen die klippe groei.
Net buite Jansenville, en Uniondale, staan ook klip-forte, en langs die afdraai na Kirkwood is ‘n begraafplaas met die grafte van twee van Gen. Smuts se kommando-lede. Dit alles laat ‘n mens besef die oorlog was nader aan ons wêreld as wat ons dink.

Hoffie Williams. 2015.