15 Mei 2015

HENDRIK SPOORBEK SE LEGENDE ( En die opspoor van sy graf....)

Churchill-dam in droogte tye




Hendrik Spoorbek is gebore in Dortmund, Duitsland, as Heinrich Schörbeck, en het ongeveer in 1811 na die Kaap gekom as matroos of soldaat, maar het later gedros. Sy ambag was klip-dresseerder. In 1815 vind ons hom in Humansdorp distrik, want toe is die plasie aan die Kromrivier waar die bolope van die Churchill-dam is, aan hom toegeken. In ‘n droogte-tyd, wanneer die dam minder as 34% water het, is die grond weer oop, en kan mens daar gaan rondloop.






Die murasies wat nou daar te sien is, dateer egter uit ‘n later tyd. Na sy dood in 1845, het die grond in 1866 oorgegaan in die hande van P. du Preez en C. van Rooyen. Van Spoorbek se twee-vertrek hartbeeshuis het geen teken oorgebly nie. Te oordeel aan hoeveel stories aangaande hom nog onthou en oorvertel word, wys dit hoe ‘n besondere karakter hy moes gewees het. Gelukkig het ‘n paar skrywers hoofstukke in hul boeke afgestaan aan Die Towenaar van Humansdorp, onder andere Lawrence Green in These Wonders to behold, E.J.Gerryts in "Humansdorp se Groei en Bloei", Roger Webster in "At the Fireside", en Sue van Waart in "Swartberg se mense". ‘n Onderwyser van Humansdorp, J. van der Merwe, en mev. Fick van Alexandria distrik het ook aantekeninge oor hom nagelaat. ‘n Mens kan ook put uit vertellings deur ‘n ouer geslag, en rekords uit die kantoor van die Mormoonse kerk in Port Elizabeth. Hy het ‘n watermeul gebou, waarmee hy boere in die omgewing se koring gemaal het. Maar die dam was nog nie weer leeg genoeg om te kon sien of dáár iets van oorgebly het nie.

Nadat al die bronne deurgewerk is, is die indruk wat gelaat word dié van ‘n komplekse karakter, met uiteenlopende vermoëns. Hy moes onder andere ‘n hipnotis, ‘n geloofsgeneser, ‘n siener, ‘n gedagteleser en ‘n kulkunstenaar gewees het. Met elemente van Slamse goël-kuns en die Suidsee-eilande se voedoe-toordery ook by.

Hy het sy vermoëns ten goede te gebruik om mense te help. Hy was dan ook wyd bekend in die Oos-Kaap as die Wit Krag. Voortrekkers uit die Oos-kaap soos Piet Uys, Karel Landman en Gert Raynier het hom persoonlik geken. Aan Gert het hy ‘n sakkie gegee om om sy nek te dra wat hom sou beskerm teen die assegaaie van die vyand. By die Slag van Bloedrivier is sy perd onder hom doodgesteek maar hyself het niks oorgekom nie. Voorspellings van hom het waar geword. Hou in gedagte dat hy gelewe het in die tyd wat die Groot Trek voorafgegaan het, met Engeland se patetiese hantering van die grens-probleme, toe hy gesê het : As Kromrivier se water die dag opdraend loop, sal Engeland uitgeskud word soos ‘n meelsak. In die1940’s het Port Elizabeth die dam gebou in die Kromrivier, as deel van die stad se water-voorraad, en die water het op twee maniere opdraend geloop. Toe die dam begin vol loop het die water teruggestoot, in Kareedouw se rigting, en dit is met
‘n pyplyn gevoer na Port Elizabeth, bult-op en bult-af. Dit is die pyplyn wat oor die Gamtoos-rivier gaan met die hangbrug, net langs die N2-brug. Net na die oorlog het Engeland die een na die ander sy kolonies begin verloor, beginnende met Indië, later Botswana, Lesotho, Suid Afrika en ander.

‘n Jong paartjie het eenkeer in ‘n straat spottend na hom verwys as: die ou towenaar. Hy het hulle glo streng aangekyk en gesê julle dink julle gaan trou maar dit sal nie gebeur nie. Die troue was al aan die gang met die ds. wat begin om die formulier te lees, toe die bruid skielik uit is by een deur, en die bruidegom uit by ‘n ander, en van die troue het niks gekom nie.

Hy het van ‘n heuningnes geweet in een van die rivier-kranse. Aan iemand wat hom gehelp het om die nes uit te haal, het hy gesê niemand sal weer die nes uithaal nie, en water sal dit eendag verwoes.

Na sy dood kon niemand die nes kry nie, en vandag is die nes onder die dam se water.
‘n Voorbeeld van heldersiendheid: Hy word geroep na ‘n siekbed waar ‘n vrou siek lê aan koors, en haar suster wat gekom het om haar te verpleeg. Net toe hy binnekom toe sê hy : hoe vreemd, die dooie versorg die lewende. Sy bedoeling word toe duidelik ‘n paar dae later toe die siek vrou gesond word, maar haar suster siek word en sterf.

Die tradisie van daardie tyd was so dat niemand wat op reis was slaapplek geweier sou word nie, maar sy slordige voorkoms het gemaak dat huisvrouens gemengde gevoelens gehad het in sy geval. So is hy by een huis weg na ‘n nag se oorslaap, en toe die vrou sy kamer weer aan die kant maak sê sy vir haar helper, kyk, hier het die ou vark sy twaksak vergeet. ‘n Rukkie later is daar ‘n klop aan die deur, toe is dit hy, wat sê: die ou vark het net sy twaksak kom haal.

Die koringmalery was ‘n tydsame proses, en by een geleentheid toe hulle bo by die huis sit en koffie drink het terwyl hulle wag, sê Spoorbek skielik, iemand is besig om jou meel te steel. Maar toemaar, hy sal nie ver kom nie. Toe hulle daar kom kry hulle ‘n klonkie wat al meel in ‘n sak begin gooi het, maar hy het net daar versteen en kon nie roer nie. Tot Spoorbek hom laat gaan het met ‘n ernstige vermaning om dit nie weer te doen nie.

Spoorbek het altyd sy byl by die houtkapplek gelos, in die kapblok vasgekap. Eendag het ‘n verbyloper die byl probeer vat, maar toe sit sy hand vas en hy kon nie weer laat los nie. Eers heelwat later het Spoorbek hom daar gekry en verlos, na ‘n skrobering.

‘n Boer wat kom koring maal het, het die touleier gestuur om met die osse te gaan wei, met die opdrag om teen ‘n sekere tyd terug te wees. Toe hy wegbly raak die boer ongeduldig, en Spoorbek vra hom of daar iets is wat aan die person behoort. Toe sê die boer, ja daar hang sy baadjie oor die wa se disselboom. Spoorbek vat ‘n sambok en looi die baadjie goed. Nie te lank nie kom hy daar aangehardloop met die osse, as-vaal, en vertel hy sit nog so toe begin ‘n blinde sambok hom sommer te slaan.

Spoorbek kon ook huise met grasdakke bespreek teen brand. In een geval het die kinders gehoor daarvan, en toe terwyl die mense kerk-toe was het hulle probeer die dak aan die brand steek, maar verniet.

Tydens die Vierde grens-oorlog, val die Xhosas die dorpie Alexandria aan, en Spoorbek was ook daar. Die kerk se dak raak aan die brand, en almal vlug in die skoolgebou in. Spoorbek verseker hulle toe dat die skool nie sal brand nie. Na baie pogings, is die aanval uiteindelik afgeslaan, sonder dat die skool gebrand het. Jare later is die grasdak vervang met sink, en die voorman sê toe die werkers aan om die hoop gras aan die brand te steek, maar dit het verseg om te brand. ‘n Soortgelyke verhaal word vertel van huise in die Baviaanskloof.

In al die boeke waarvan die skrywers navorsing gedoen het omtrent Spoorbek, is daar nêrens melding gemaak dat iemand ooit vir Spoorbek gesien het iets doen wat die raaiselagtige verskynsels sou kon verklaar nie. Soos dat hy die dakke met iets behandel het nie.

Tussen Adelaide en Bedford het ‘n boer se kraal aan die brand geraak, en alle pogings om dit te blus het misluk. Die vasgepakte mis in so’n kraal kan vir maande smeul, onder die oppervlakte, en ‘n baie gevaarlike situasie skep. Toe roep die boer Spoorbek se hulp in. Spoorbek gee hom toe twee briefies, opgevou, en sê hy moet dit in die kraal gooi en dan wegloop sonder om om te kyk. ‘n Week later was die vuur dood.

Spoorbek het ook ‘n vreemde mag gehad oor diere. Soos toe hy eendag opdaag by ‘n boer wat twee kwaai waghonde gehad het. Toe die boer hom vra of hy nie die honde teëgekom het toe hy inkom nie, sê hy, ja, hy het hulle gesien, maar hy los hulle in vrede, en hulle vir hom. Iemand met wie hy ‘n afspraak gehad het om saam êrens heen te gaan, was haastig om weg te kom, en vra vir Spoorbek of hy nie solank sy perd vir hom kan gaan haal nie. Toe sê Spoorbek, nee wat, die perd sal weet wanneer ek hom nodig het. En sowaar, toe Spoorbek reg is om te ry, toe runnik die perd by die agterdeur.

Wanneer hy vir ‘n paar dae moes weggaan van die huis, het hy glo handevol mieliepitte in die hoenderkampie gegooi, met die woorde, hierdie is Maandag se kos, hierdie is Dinsdag se kos, en hierdie is Woensdag se kos. Dan het die hoenders glo elke dag net daardie dag se pitte geëet.

‘n Boer wie se koring gemaal moes word, moes oorbly die nag omdat die malery nog nie klaar was nie. Hy is toe bekommerd dat sy osse sou wegloop in die nag. Spoorbek vat toe ‘n stok en trek ‘n sirkel op die grond om die osse. En die volgende oggend toe staan die osse nog net so binne die sirkel.

‘n Groep van die omgewing sou per geleentheid met een se muilewa ry see-toe om te gaan visvang, en Spoorbek sou saamgaan. Maar hy was nooit haastig nie, en die klomp is naderhand so haastig om weg te kom dat hulle besluit om te ry sonder hom. En daar verseg die muile om te loop. Eers toe Spoorbek kom en opklim, kon die drywer die span aan die gang kry.

Spoorbek het ‘n sin vir humor ook gehad. In die omgewing êrens het ‘n groot klip gelê, en eendag verskyn die volgende woorde bo-op die klip : Wat een grote wonder, wagt vir hem wat mij kan sien van onder. ‘n Paar fris jongmanne aanvaar toe die uitdaging en daag eendag daar op met pikke en koevoete, en slaag daarin na ‘n gespook, om die klip omgerol te kry. Onder toe lees hulle : Nu ben ik tog so blijde. Ik ligt op mijn ander sijde.

Uit die verhale in al die skrywers se boeke, is dit duidelik dat Spoorbek wyd bekend was, van Adelaide en Bedford, tot Oudtshoorn en Knysna. Miskien het hy so wyd gereis omdat mense oral sy hulp gesoek het, met allerhande probleme, en nie omdat hy juis lief was vir rondreis nie.
Sy graf is in die Müller-begraafplaas, oorkant die smalspoorstasie Two Streams.

Geen inskripsie, maar twee eenderse klippe lê langs mekaar by die kop-kant.

Geskryf deur - Hoffie Williams


NG Kerk Kareedouw
Foto: Dirk de Waal
Op soek na die graf van die legendariese Spoorbek:

Oppad terug van 'n uitstappie op 07/04/2015 na Plettenbergbaai  word die  afdraaipad vanaf die N2 na Kareedouw geneem om te gaan soek na die graf van Spoorbek. Met  aanwysings van Hoffie Williams in die hand word die soektog deur Andrew & Petro Meyer saam met Dirk & Valia de Waal aangepak.




B J Vorster





Eers word 'n besoek gebring aan  die pragtige NG Kerk op Kareedouw waar die graf van B J Vorster, voormalige Eerste Minister  (1966-1979) en vierde Staatspresident van Suid-Afrika (1978 - 1979) besigtig kan word.


Daarna word die R62 vanaf Kareedouw  na Humansdorp gevolg.  Hoffie se aanwysings is gegee
vanaf Humansdorp na Kareedouw en die baken waarna ons van Kareedouw se kant af soek is die
"Two Streams" stasie.


Met geen idee van die afstand daarheen nie stop ons by 'n padstal om verdere inligting te probeer kry. Gelukkig is die eienaar baie goed vertroud met die omgewing en gee baie goeie aanwysings en met die inligting dat die stasie ongeveer 20-25 km vanaf Kareedouw is, val ons weer in die pad, vol selfvertroue dat ons die graf sal kan kry.








Die pad gaan ongeveer 20 km verder deur 'n laning bome en net daarna is die Two Streams smalspoortrein se stasie aan die regterkant. Die naambord is al baie dof en sal binnekort nie meer leesbaar wees nie - van die stasiegeboutjie is slegs 'n murasie oor. 'n Kort entjie na die stasie draai 'n pad links uit na Onverwagslaagte.


 
Hoffie se aanwysings is in die kol: "Die  begraafplaas  is  langs  die  grondpad,  op  regterkant  oorkant  teen  die  bult."  Die foto links  is vanaf die R62 geneem en die begraafplaas is regs langs die pad in lyn met die groot boom op die bult wat links langs die pad staan. Die begraafplaas is egter nie sigbaar vanaf die pad nie en ons ry verby tot by die eerste plaas se ingang: "Kobus en Tina du Plesiss, Two Streams" staan op die naambord.

                                                                                                                                                                            






Gelukkig kon Kobus du Plessis beduie waar die begraafplaas op die plaas is. Terug na die grondpad tot by die groot boom - vanaf die pad is die paadjie duidelik sigbaar. Almal moes eers deur die grensdraad klim en daarvandaan is dit net 'n kort stappie tot by die grafte.

Die grafte is binne in 'n bos met Wattelbome en hier is dit doodstil en koel, veral laterig op 'n herfsmiddag.

Die grafte bo is almal van die Mullerfamilie en dateer terug na ongeveer 1900. Die inskripsies op die grafstene is ongelukkig reeds baie dof maar met behulp van grond is dit effens meer leesbaar gemaak.
 
Verder is daar twee nuwer grafte van W J Breytenbach oorlede 22/12/1947 en Johanna Magdalena Beer oorlede 16/05/1950 asook 'n paar ander grafte wat slegs aangedui word deur 'n aantal klippe.

Boomwortels groei oor 'n graf
Klippe en insakking dui nog 'n graf aan

 
Dan is daar die graf wat ons vermoed aan Heinrich Schörbeck (Spoorbek) behoort:
Foto: Andrew Meyer

 Hierdie twee klippe langs mekaar is baie diep in die grond gedruk al lyk dit op foto asof die klippe bo-op die grond lê


(Naskrif : Waarom ons belangstelling in Spoorbek?
In die boek: "Die Groei en Bloei van Humansdorp" deur E.J.Gerryts is daar 'n stukkie wat handel oor 'n voorsaat van Andrew asook 'n voorsaat van Valia se pa (Petrus Lafras Meyer):
..." Op die plaas Geelhoutboom het Spoorbek die woonhuis, wat aan die familie Meyer behoort het, "bespreek " teen brand. Uit pure nuuskierigheid wou die kinders tog maar alte graag uitvind of die dak sou brand as 'n mens vuur daarin steek. Toe die ouers eendag dorp toe was, het hulle besluit om die dak op proef te stel. Hulle het op die solder geklim en een vuurhoutjie na die ander getrek, maar verniet, die dak wou nie brand nie. Hiermee was hulle nog nie tevrede nie, en een van hulle het 'n stomp vuur in die kombuis gaan haal. Dit het hulle diep in die dak ingedruk , maar alles tevergeefs: die bergriet krul inmekaar van die hitte maar wil glad nie vlam vat nie.
Die geloof het baie sterk posgevat dat as Spoorbek 'n huis bespreek het, brand dit nie al doen jy ook wat. Mense sou selfs later jare stukke hout van bogenoemde dak in die vuur gesteek het, maar verseg of dit wou brand...."
Petro Meyer


Die pragtige omgewing in die laatmiddag vanaf die R62 langs die
Onverwagslaagte uitdraaipad.
Foto: Dirk de Waal
 
Interessante foto geneem deur Dirk de Waal by Two Streams se stasie.