27 Augustus 2014

MAAK JOU EIE LEGACY-HANDLEIDING

Die meeste van ons lede gebruik die genealogiese program Legacy om genealogiese data te berg, te orden en te verwerk. Dit is ʼn besonder kragtige program, baie kragtiger as waarvoor die meeste van ons hom gebruik. Ek vermoed die meeste, of dan minstens sommige, van ons lede ly aan dieselfde kwaal as ek: hulle wil sou gou as moontlik met ʼn rekenaarprogram aan die gang kom en is te ongeduldig om die instruksies behoorlik te bestudeer. Die gevolg is dat baie van ons, of dan sommige van ons (of miskien net ek) die programme nooit behoorlik ontgin nie en gefrustreerd raak wanneer ons vasbrand of probleme optel, doodgewoon omdat ons nie bewus is van die volle potensiaal van die programme nie.


Legacy kom nie met ʼn handleiding nie, altans nie as deel van die program nie. En tog kan jy met ʼn klein bietjie moeite en min koste vir jou ʼn baie volledige handleiding oor die program saamstel; trouens, jy kan kies uit twee opsies. Miskien vind jy hier en daar iets behulpsaams in die wyse waarop ek vir my ʼn Legacy-handleiding gemaak het.

Ek het die Help-funksie van die Engelse weergawe wat ek gebruik, geopen en die Legacy Help Contents deurgekyk. Daar was twee afdelings met genoeg materiaal waaruit ek my eie handleidings kon saamstel: Using Legacy en Tutorial. (Die Afrikaanse weergawe, wat hom nie saam met of na die Engelse weergawe op dieselfde rekenaar wou tuismaak nie, sal wel vertaalde terminologie vir dieselfde kategorieë hê). Ek het op die eerste hiervan besluit.

Hierna het ek die afdeling Step-by-Step Instructions geopen. Dit gee ʼn lys van 10 onderafdelings waarvan 8 in onderwerpe verdeel is sodat dit alles tesame met 46 onderwerpe eindig. Ek het bo begin en sistematies elke onderwerp wat ek enigsins ter sake gevind het, deurgekyk en gedruk. (Daar was net een wat ek geïgnoreer het). Hier is ʼn wenk: Wanneer jy ʼn onderwerp gedruk het, moet jy op die Back vlaggie klik om terug te keer na Instructions met sy lys onderwerpe; sodoende sal nie tred verloor met jou vordering nie. Die resultaat was ʼn taamlike lywige dokument.

Om die dokument te bind is eenvoudig. Jy kan dit van ʼn goedkoop plastiekringband of ʼn draadringband voorsien. Dit kan binne ʼn paar minute deur The Office 4 U gedoen word. ʼn Mens kry ook stywe plastiek-rûe van verskillende groottes waarin jy self die rugkant van die dokument kan inskuif. Dié goed is eers goedkoop. Ek hou altyd ʼn paar van verskillende groottes aan vir die handleidings van my rekenaarprogramme.

Om die produk uitkenbaar te maak tussen al die ander handleidings van rekenaarprogramme, het ek met Microsoft Word ʼn buiteblad gedruk en sommer ook die lys afdelings van die Step-by-Step Instructions soos dit onder die helpfunksie verskyn. Laasgenoemde het ek voorin die dokument gesit om my te oriënteer wat die inhoud betref.

Die instruksies is nie van ʼn behoorlike inhoudsopgawe voorsien nie en die bladsye is dus ook nie deurlopend genommer nie; elke onderwerp se bladsye is naamlik afsonderlik genommer. Dus moes ek ʼn plan bedink om die 46 onderwerpe te indekseer.

Die metode wat die beste werk, is sogenaamde index tabs. Tabs kom in verskillende formate: standaard groottes of groottes wat jy kan sny soos dit jou pas. In beide gevalle kan inskripsies op die tabs aangebring word en kan hulle selfklewend aan bladsye geheg word so dat hulle aan die kante uitsteek en ʼn mens die betrokke bladsye dus onmiddellik kan vind. ʼn Mens kan minstens 7 sulke tabs oor die lengte van ʼn A4 dokument aangbring. Op dié wyse kan elk van die 46 onderwerpe van die Legacy handleiding getab word en sonder moeite opgesoek word.

Jy kan natuurlik meer (of minder) selektief wees as ek. Jy kan minder (of meer) onderwerpe insluit; jy kan jou handleiding maak soos dit jou pas. Jy sou ook op ʼn soortgelyke wyse vir jou ʼn handleiding kon saamstel uit die Tutorial wat verskaf word. Die Tutorial – eintlik ʼn mini-tutorial - bestaan uit 6 lesse (lessons) wat elk ʼn aantal How to..... oefeninge (exercises) insluit, alles tesame 35 oefeninge.

Ek het egter op die Step-by-Step Instructions besluit omdat dit aansienlik vollediger is en die volle krag van die program ontsluit. Wat is die nut van so handleiding as jy net so wel die betrokke onderwerpe direk in die helpfunksie op die rekenaar kan opsoek? Die punt is dat jy in dié geval tydelik die program moet verlaat en dan nie meer die blad waarop die probleem of vraag voorkom, voor jou het nie. Meer dikwels as andersins is die instruksies ook van so ʼn aard dat jy meer kere heen en weer tussen jou programblad en die helpfunksie moet beweeg, wat frustrerend kan wees – en onnodige hoë eise aan jou korttermyngeheue kan stel. (Dit is in elk geval die ervaring van hierdie verslete brein). Met ʼn gedrukte handleiding naas jou en die Legacy programblad voor jou kan jy rustig jou probleme uitsorteer. Afgesien daarvan sal jy dinge van die program leer wat jy andersins nooit sou uitgevind het nie. (Het jy bv. geweet dat jy van die ikons bo aan die programblad kan wegneem en nuwes kan invoeg?)

Geskryf deur Diek van Wyk