27 Augustus 2014

DIE SAMESTELLING, BIND EN DRUK VAN ‘N FAMILIEREGISTER

Jason van die The Office 4 U se praatjie was propvol inligting. Vergeef my dus as ek nie behoorlik reg daaraan laat geskied in hierdie beknopte samevatting nie.

As jy jou familiegeskiedenis in ʼn beperkte oplaag van, sê, 5 tot 20 of meer kopieë wil laat druk, is dit die moeite werd om dit op papier van goeie gehalte te laat druk. Gewone papier vir alledaagse gebruik sal nie laat reg geskied aan die kwaliteit van jou boek nie veral as daar heelwat foto’s in is. Jason beveel 100 gr coated papier aan. Dit kos ʼn bietjie meer, maar is die ekstra paar rand werd as jy ʼn afgeronde produk wil hê.

Dit is baie belangrik dat die manuskrip vooraf deeglik beplan en versorg word. Bestee liewer ʼn paar ekstra maande daaraan as om met ʼn produk te eindig waarmee jy uiteindelik teleurgesteld is.

Die meeste lede gebruik een of ander weergawe van Microsoft Word (.doc of .docx) as woordverwerker. Die eerste ding wat jy moet doen, is om op ʼn formaat vir jou boek te besluit. Die meeste lede verkies om by die A4 standaard te hou, maar sommige mense vind dit te lomp vir ʼn boekrak en verkies ʼn kleiner formaat. (Ek het vier boeke by Jason in 18 x 24 cm formaat laat druk en bind, wat hulle gaaf laat inpas by ander boeke in my boekrak. DvW)

Tweedens moet jy jou kantlyne op Gutter of Mirrored stel (afhangende van watter weergawe van Word jy gebruik). Dit is om te verseker dat die kantlyne dieselfde sal wees weerskante van elke blad. Onthou, Jason gaan jou boek aan albei kante van elke blad druk en nie net aan een kant soos jy gewoond is om te doen nie. As jy nie dié verstelling maak nie, sal die kantlyne aan die voorkante van jou blaaie anders wees as aan die agterkante.

Die volgende ding om te doen, is om na elke hoofstuk ʼn bladsybreuk (page break) in te voeg. As jy dit nie doen nie, sal jy vind dat elke invoeging, weglating of plasing van ʼn foto die hele manuskrip affekteer en sal jy elke keer elke hoofstuk daarna, d.w.s. die res van die manuskrip, moet redigeer. Page breaks beperk wysigings tot ʼn hoofstuk op ʼn keer.

Derdens moet jy die plasing van jou foto’s beplan. Foto’s bring jy in die teks deur van die Insert en daarna die Picture fasiliteit gebruik te maak. Deur vervolgens op die foto te regs-klik en dan op Format Picture te links-klik kan jy kies hoe die foto in die teks moet inpas, kan jy die grootte van die foto verander, en kan jy ʼn raam daarom plaas. As jy ʼn onderskrif wil byvoeg, kan jy dit doen deur ʼn teksraam (text box) met behulp van die Insert fasiliteit onder aan die foto te plaas en dan daarbinne die nodige byskrif aanbring. Jy kan ook jou foto’s en meegaande teksrame rondskuif tot waar jy dit die beste ag.

Nou kom die volgende besluit: waar om die foto’s te plaas. Die druk van kleurfoto’s is per bladsy aansienlik duurder as monochroom en sal jou drukkostes opjaag. Jy kan kostes laag hou òf deur kleurfoto’s na monochroom om te skakel met behulp van enige foto-program, òf jy kan jou kleurfoto’s op spesifieke bladsye, bv. aan die einde van elke hoofstuk, saam groepeer ten einde kostes te verminder. Onthou net dat die rondskuif en die sny en plak (cut and paste) van foto’s die teks erg kan ontwrig.

Word het ʼn fasiliteit waarvolgens ʼn inhoudsopgawe (table of contents) saamgestel kan word. Gebruik dit gerus; dit sal jou moeite bespaar.

Jason verkies om die manuskrip in Word-formaat te ontvang. Hy sal dit na pdf-formaat omskakel en dit dan finaliseer.

Die finale stap is om op ʼn band vir die boek te besluit. Basies is daar vier tipes bande waaruit jy kan kies. Die eenvoudigste is om ʼn plastiek spiraalrug of ʼn draadrug te gebruik. Dit is goedkoop maar lyk nie so professioneel nie. Ietwat deftiger is wat in Engels ʼn Soft Cover Glue Bind heet. Dit het die voordeel bo die ander twee dat dit plat is en dus maklik tussen ander boeke inskuif. The Office 4 U kan aldrie hierdie bande, wat meer geskik vir dunner boeke is, doen. Vir dikker boeke en ʼn professionele afwerking kan Jason die boek in ʼn harde band en in kunsleer met goue letters op die voorblad en op die rug laat bind. Dit kos heelwat meer maar is ʼn produk waarop enigiemand trots kan wees.

Geskryf deur Diek van Wyk