27 Augustus 2014

DIE AARD EN OMVANG VAN `N GENEALOGIESE ONDERSOEK SOOS EK DIT SIEN

Piet Butler het vir ons die een en ander neergeskryf oor sy genealogiese navorsing. Daar is nou al soveel deur lede oor hulle ervarings en invalshoeke geskryf dat hy besluit het om met ʼn nuwe aanslag te kom: die verband tussen familiegeskiedenis en historiese gebeurtenisse. En in dié verband die assimilasie van Engelse en Afrikaanse families. Laat mens dink, nè.

Vir die beginner genealoog/navorser kan die opstel en ondersoek na `n familiestamboom bepaalde vrae na vore bring. Uiteraard staan die studie en ondersoek na familiebande se oorsprong in direkte verband met `n bepaalde periode in die Suid Afrikaanse geskiedenis. Genealogie is dus kleiner afdelings en/of inligtingsbronne binne die groter historiese konteks.


Talle entoesiastiese ondersoekers/navorsers na familiestambome vrees die maak/gevolgtrekking van bepaalde aannames oor `n familie. Tog plaas hierdie aannames en/of oorlewerings die betrokke individue in `n bepaalde tydvak met eiesoortige belewenisse, hoogtepunte, kulturele en politieke verwikkelings. Die Duitsers verwys dikwels na “zeitgeschichte” wat `n termyn van ongeveer 50 jaar insluit. Sedert 1910 het talle nasionale en internasionale gebeurtenisse `n duidelike invloed op die Suid Afrikaanse familiegeskiedenis gehad. Familiebetrokkenheid in bv. die 1914 Rebellie, die Anglo-Boere-oorlog, die Tweede Wêreldoorlog ens, is gebeure wat die nageslag tot op hede nog besonder interesseer. Familietwiste en familieverwydering as gevolg van verdeelde lojaliteite is gevolge wat geslagte lank skeurings/verwydering veroorsaak het.

So het ek bv. in my ondersoek na die Butler clan `n toenemde assimilasie sedert 1945 tussen Afrikaans- en Engelssprekendes opgemerk. Ten einde `n sinvolle beeld te vorm van die Butlers se migrasie uit Ierland na Suid Afrika met die koms van die 1820 Britse Setlaars en die VSA, het sekondêre bronne/artikels onmisbaar geraak in die navorsingsproses.

Akademici soos wyle Guy Butler verskaf bepaalde insigte oor die Butlers in sy boeke, wat die navorsingsproses besonder openbarend maak maar eweneens weer verdere studie vereis.
Om `n direkte familielyn deur te trek, is dit baie belangrik om `n goeie register van huwelike en kinderdope by te hou, aangesien familiename `n onbetroubare bron van navorsing raak as gevolg van die verdwyning van vernoeming van voorgeslagte.

Geskryf deur Piet Butler