03 Junie 2017

VOETSPOORTJIES VAN 'N AANGENOME KIND




Geskryf deur Engela Ferreira - Jeffreysbaai


Diė van Mary MaggsNelmarie Carlisle (Night)

Ek deel graag met julle die kort verhaal van ‘n aangenome kind – in hierdie geval van my dierbare vriendin Nelmarie Night.

Wie is Nelmarie en waar pas sy in ?

Ons het in dieselfde bank gewerk – ek was by die Oosrand se areakantoor en sy by die hoofkantoor in Johannesburg. Ons het net telefonies gekommunikeer met die areakantoor wat verslag  doen van verkoopsyfers aan hoofkantoor. Later is ek weg by die bank weg en het ek en Nelmarie eendag ontmoet net voor my vertrek na Engeland. Sy het ook later oorsee gaan werk en ons het mettertyd al groter vriendinne geword.
Na my terugkeer van Engeland einde 2010, gedurende  ‘n ontstuimige tydperk in my lewe, het ek in 2012 noodgedwonge by Nelmarie in haar woonstel in Krugersdorp ingetrek. Ons kon tot laat saans lekker “girlie talk” doen en sodoende mekaar ook beter leer ken - so het sy my vertel dat sy ‘n aangenome kind was en my toe eendag gaan wys waar sy grootgeword het. Sy wou baie graag net een keer by die hekke instap van haar grootword huis waar sy ‘n baie gelukkig kinderlewe gehad het. Na baie wik en weeg en ‘n onseker Nelmarie en baie aanmoediging het ons moed bymekaar geskraap en na die huis gegaan. Die nuwe inwoners is swartmense en het ons baie skepties laat inkom. Nelmarie kon met hartelus praat oor wat haar aangenome pa alles in en om die huis gedoen het waarvan daar steeds ‘n blywende bewys was. Haar slaapkamer se venster, die van haar haar sussie en boeties, die sonnige stoepie waar hulle kon hardloop, lag en speel.


Ons het fotos geneem en dit vergelyk met jare terug waar sy saam met die gesinnetjie voor dieselfde huis afgeneem is. Sy het ‘n liefdevolle familielewe gehad en was baie bederf want sy was dan die jongste (laatlam). Niemand het haar ingelig dat sy ‘n aangenome kind was nie – daardie jare het jy mos nie durf praat daaroor nie.

Nelmarie het mettertyd agter gekom sy trek gladnie na die familie nie en een nag ‘n droom gehad waarin sy ‘n duidelik boodskap gekry het dat sy aangeneem is en daarna wou sy sekerheid kry. Op 10/11 jarige ouderdom het sy moed bemekaar geskraap en haar ma daaroor uitgevra. Dit was ‘n hartseer tyd vir haar ma, haar broer wat toe in Amerika woonagtig was daardie dag ook daar. Hy het haar vasgehou en haar vertel hoe hy haar as baba vasgedruk en gehuil het omdat hulle altwee in “dieselle bootjie was” – hy was ook aangeneem en is ook nooit vertel nie. Toe hy 17 was het ‘n nefie hom daarvan vertel – hy was baie ongelukkig omdat ons aanneemouers ons nooit iets vertel het nie. Nelmarie wou haar ma verdere trane en hartseer spaar en het nie weer vrae gevra nie, so het sy maar met die onsekerheid bly leef en altyd die hunkering gehad om te wil weet.

In die jaar 1983 was daar ‘n dokumentêr op tv wat aangebied was deur Carol Charlewood en sy het dit haar missie gemaak dat alle bestaande rekords oor kinderaannemings beskikbaar gestel moet word vir aangenome kinders wat na hulle biologiese ouers soek. Daardie selfde jaar is Nelmarie se aanneem mamma oorlede en sy het besluit om Kinderwelsyn te skakel vir ‘n afspraak. Die dame het haar leêr vir haar gewys maar al wat beskikbaar was, was ‘n vel papier met ‘n paar lyntjies oor Nelmarie se agtergrond. Daar was baie min inligting en steeds het Nelmarie onvervuld  bly wonder. Op ‘n later stadium het sy weer Kinderwelsyn gekontak en hulle het vir haar al haar aanneem dolumente aangestuur.

Nelmarie het verneem dat haar biologiese ma as jong meisie verloof was aan ‘n man van Barberton maar later a.g.v sy drinkery, die verlowing verbreek. Na hulle uitmekaar is wou sy nie sy baba behou het nie – daarom die besluit om haar babadogtertjie te laat aanneem.

Nelmarie is gebore 10 Des 1946 oppad na die Queen Vicotria hospitaal in Johannesburg en geregistreer by die hospitaal as baba Mary Maggs. Sy is in die Princess Alice tehuis geplaas waarna Neels en Hester Carlisle haar aangeneem  en haar naam verander het na Nelmarie Carlisle. Ironies genoeg is haar aanneem broer se naam ook as Nelmarie geregistreer.

Einde 2015 het sy op Facebook afgekom op 'n groep genaamd “Baby Come Home”. Sy stuur toe vir hulle ‘n privaat boodskap met die inligting wat sy het – haar eie geboortedatum, haar biologiese ma se naam en geboortedatum. Die groep het vir Nelmarie haar ma se laaste adres, wanneer en met wie sy getroud was en datum van afsterwe gestuur – asook dat haar biologies ma aan hartversaking oorlede is.

Ironies genoeg word Nelmarie die volgende maand siek a.g.v ‘n hart probleem. Nelmarie het toe in Maart 'n viervoudige omleiding gehad en stadigaan herstel. Teen November 2016 het Nelmarie by ons kom kuier in Jeffreysbaai. Sy het beplan om net een week te kuier, maar ons het ander planne gehad.  Ons het haar saam genooi na die genealogiese groep se jaarafsluiting en daar het sy vir Maureen McCleland ontmoet en begin praat oor haar begeerte om meer oor haar biologiese ouers en agtergrond te wete te kom.

Maureen het glad nie op haar laat wag nie en sommer die volgende dag reeds vir Nelmarie inligting begin aanstuur. Vir Nelmarie was dit baie emosioneel en so ‘n groot verassing dat sy nie omgegee het om langer kuier te kuiers nie veral sodat sy by Maureen kon uitkom – “God se groter plan” soos sy sȇ.  Gou was die vakansie oor en met ‘n hart vol blydskap is Nelmarie later terug Krugersdorp toe.

Met Maureen se hulp en soeke wat tot by ‘n vriendin in Australië gelei het, het Nelmarie ook haar half suster Susan se kontak nommers gekry. Sy het haar gebel en vir haar gesê sy dink Susan se ma is dalk familie en haar gevra of sy net eers bevestiging op ‘n paar vrae kan kry, dan sal sy haar verder inlig. Susan het toe al Nelmarie se inligting bevestig en daarna het Nelmariel haar vertel van haar soeke en dat hulle dalk half-susters kan wees. Susan was natuurlik baie geskok want daar was ook niks vir hulle  vertel nie dus was almal heeltemal onbewus van Nelmarie se bestaan. Later het sy by Susan verneem dat hulle eintlik 3 susters en ‘n broer is, met nog ‘n broer wat 25 jaar terug oorlede is. Susan het getwyfel en vir Nelmarie gevra om haar “half-broer” te skakel wat sy toe ook gedoen het.

Hy het vir Nelmarie ingelig hy en Susan het besluit om vir niemand iets te sê nie want hulle wil nie hulle ma se “image tarnish” nie. Natuurlik het sy antwoord en houding Nelmarie ontstel en sy het vir hom trompop gevra hoe dink hy moes sy as kind en mens al die jare gevoel het ? En wat van haar kinders wat ook nooit iets van hulle ouma geweet het nie, en wat sy deurgemaak het by die waarheid uit te kom.

Susan se man het vir haar gesê almal het die reg om te weet. Dit het toe ook bekend geword dat die twee oudste kinders wel “iets” geweet het.  Met verloop van tyd het Susan aan Nelmarie voorgestel en uitgenooi om ‘n “familie” byeenkoms by te woon en te kuier en dan openlik oor die gebeurlikhede te praat. Tot nou toe kon hulle nog nie bymekaar uitkom nie. Susan het vir Nelmarie fotos gestuur waar sy saam met haar ma – (Nelmarie se biologiese ma) en pa staan – en op die foto kan jy duidelik die ooreenkoms tussen Nelmarie en haar ma sien.

Tydens plasing van hierdie berig het sy het nog nie uitnodigings aanvaar van die half-familie om ‘n byeenkoms en ontmoeting by te woon nie.

Nelmarie is ewig dankbaar vir Maureen se hulp om haar met so baie inligting in so 'n kort tydjie te kon help.

** Sommige name verander om persone se identiteit te beskerm**