15 Junie 2017

Die groot brande van 1869 en 2017

In die boek Humansdorp se Groei en Bloei 1849 - 1975 geskryf deur E J Gerryts is daar 'n hoofstuk wat handel oor die Groot Brand van 1869 en nou amper 150 jaar later is daar weer 'n groot brand in die omgewing.

"Die streek vanaf die Tsitsikammabosse tot oorkant die Van Stadensrivier en van die see tot aan die Kougaberge het in ligte laaie gestaan. Die eienaardigste van die ramp is dat dit nie 'n vuur was wat op 'n sekere plek ontstaan en deur 'n geweldige wind aangedryf is nie : selfs dan skyn dit onmoontlik dat die vlamme op een dag 'n gebied van oor die honderd myl tot as sou kon verbrand. Voldens mededelings het 'n warm noordewind gewaai sodat dit nie die wind was wat die vuur van wes na oos (of andersom) kon dryf nie. Buitendien het daar op dieselfde dag groot  verwoestende brande gewoed in die distrikte van George, Knysna, Oudtshoorn en Prins Albert.


Verskeie teorieë van hoe die brand ontstaan het, is ontwerp; en almal stem hierin ooreen dat die brand oor 'n uitgestrekte gebied op 'n groot aantal plekke byna gelyktydig uitgebreek het,  sodat die groot streek in een dag se tyd uitgebrand het. Die goeie reënval van die vorige jaar het die veld oortrek met welige gras en ander plantegroei. Toe volg die warm droë somer met Februarie, soos gewoonlik, as die warmste en droogste maand van die jaar. Op die agste Februarie het 'n ongekende warm noordewind begin waai wat alles verder uitgedor het, en die volgende dag was die son uitsonderlik warm. Die veld was besonder ontvlambaar en dit skyn asof die skroeiende strale van die son op 'n onverklaarbare wyse die veld orals aan die brand gesteek het. Een skrywer wyt dit aan stukkies glas orals in die veld wat as soveel brandglase die vuur in die gras laat slaan het.


Wat ook al die oorsaak mag wees, die feit bly dat byna die hele Humansdorpse distrik (behalwe die kroonbosse) en sommige aangrensende gebiede in die voormiddag van 9 Februarie 1869 vlam gevat het wat nagenoeg alles verteer het, insluitende woonhuise, buitegeboue, rytuie, diere, oeste en selfs mense."


Op 19 Februarie 1869 skryf die magistraat van Humansdorp die volgende:
"I am of opinion that the immensity of the extent on which the fire spread and the terrible rapidity of its course due to the fact, that the extreme heat of the sun had prepared for instant ignition the grass, shrubs and bushwood, then usually plentiful so that wherever cinders or sparks, which a furious gale of wind carried to an almost inconceivable distance, fell, a new centre of flame at once burst out which in turn give rise to may others" .


Daar volg ook 'n lys met die name van  plase asook die skade op elkeen bv:
Dieprivier :  J. Moolman - huis, oes, twee perde, twee karre en 'n wa.
                   Lucas Meyer - huis, meubels, oes, 400 skape
                   Barend Marais - huis, oes, meubels en twee osse
                   P. Moolman - oes.
Klipdrif ; 'n man, 'n wa en vrag goed
Jeffreysbaai: J. Kemp - huis en wa met vrag
                    A Bartholomwe - alles
                    P Human - 75 skape
Suurbron:     F Gertenbach - sy huis (Mev Gertenbach en 'n bediende doodgebrand)
                   W.S.R Metelerkamp - winkel, woonhuis, effekte, buitegeboue, stalle, werkswinkels,  twee waens, ses karre, 20 perde en vee en beeste, 120 mud koring, 30 mud hawer, 40 skape. Elf lewens verloor
Rondebosch: Die volgende het alles verloor;
Wagner, Vosloo, Smith, Terblanche, Schreiber, Malagas, Fortuin. (Wagner en Vosloo konslegs hul wa en osse red).
(Bogenoemde is slegs 'n paar uittreksels van die lys)


Hierdie brand was baie wyd verspreid en tot in Uitenhage tot groot skade en lewensverlies gelei.
Die hoofstuk eindig met die volgende: "Die volgende dag was die hele wêreld een groot swart roukleed en dit was treurig om te sien hoe alle aardse besittings in een dag se tyd total tot as verbrand het". 




Junie 2017
Vanaf ons huis kon ons bedags in die verte rook op die berge sien en ook die vlamme in die twee voorafgaande nagte, dit was tegelyk skouspelagtig en vreesaanjaend om die vlamme in die verte te sien. Gister, 11 Junie, was Jeffreysbaai behoorlik toe onder 'n rookwolk en moes vensters toegehou word om die reuk te verminder.


Gistermiddag laterig het ons 'n entjie gaan ry om na die skade te gaan kyk en plaas 'n paar foto's van die omgewing. Ongelukkig kan geen foto of beskrywing die verlies van lewens en eiendom werklik beskryf nie ....
So 15 km buite Jeffreysbaai oppad na Van Stadensbrug                            


Naby aan African Dawn Bird and Wildlife Sanctuary                        





Geneem vanaf die ou brug met die Van Stadensbrug in die agtergrond.
Let op al die rook in die kloof - dag nadat die Woodridge College afgebrand het 




Naby Thornhill waar twee mense in die brand gesterf het                            


Oppad na Loerie                        




Naby Loerie