12 Maart 2016

MODE ONTWIKKELING OOR DEKADES EN DIE IDENTIFIKASIE VAN HISTORIESE KLEREDRAG IN SKETSE EN FOTO’S

     Tydens ‘n onlangse besoek aan die Humansdorp Museum het Annemarie Carelsen – kurator van die Ditsong Museums - ‘n insiggewende praatjie gelewer oor die datering van voorwerpe, tekstiele asook sketse en foto’s aan die hand van kleredrag, haarstyle en objekte. Na die praatjie het sy deur die museum se versameling gewerk, klerasie in verskillende tydperke verdeel en die geraamde datum van elke stuk gegee.

Annemarie besig om klere te dateer

  
 Tydens die beoordeling van die ouderdom van tekstiele word na verskeie faktore gekyk bv die tipe materiaal, weefmetode, kleurstof en ook of die stuk handgemaak of masjiengemaak is – die eerste naaimasjien het eers in 1852 na Suid-Afrika gekom.
     Haarstyle het ook soos kleredrag verander en dit kan as ‘n verdere hulpmiddel gebruik word om die ouderdom van ‘n foto te bepaal.
     Modes in vorige eeue het baie lank dieselfde gebly maar namate die wêreld kleiner geword het a.g.v. vervoer en beter kommunikasie het modes al vinniger begin verander.
     Vroue in Suid-Afrika het deur die jare net so modieus aangetrek soos Europese dames. Welaf dames het klere direk van oorsee bestel en vinnig het ander vroue soortgelyke uitrustings gemaak. Soms is die oorspronklike rok versigtig losgetorring, die verskillende pante afgesny en gebruik as ‘n patroon om kledingstuk na te boots. Dogters het eers dieselfde klere as die moeder gedra en baie later het oorspronklike en eietydse kindermodes ontstaan.
      Vroulike voorsate was besonder vindingryk en het byvoorbeeld ‘n swart pen gebruik om ‘n netjiese lyn agter op die been te trek sodat dit onder sykouse soos ‘n kousnaat kon lyk wanneer regte naatkouse nie bekombaar (of onbekostigbaar) was.
     Daar was ‘n verskil tussen dames se algemene dradrag en kisdrag - dradrag was meer eenvoudig, en op die meeste foto’s verskyn die deftiger drag. Omdat klerasie gebruiksartikels is word dit opgedra en redelik min rokke het behoue gebly. Van kledingstukke wat gestoor is, is ook vernieting deur vogtigheid en insekte.
     In Humansdorp museum is heelwat kosbare kledingstukke wat bewaar gebly het en hier volg ‘n paar voorbeelde daarvan:







Besondere kralehandsakkie gedateer 1846.















Handgemaakte dooprokkie van 1870.














Modes word gewoonlik ingedeel in die volgende periodes:
• Baroc ca 1650 – 1750
     Tydperk wanneer Jan van Riebeeck en sy vrou Maria voet aan wal sit aan die Kaap en word gekenmerk deur stywe korsette, wye rokke en ‘n oordadige gebruik van kant, perels, lint en goue borduurwerk.
• Rococo 1750 – 1780
     Begin van hierdie era is oorheers deur Madame Popadour, Louis XV se minnares wat ‘n voorliefde gehad het vir pastelkleure en blompatrone. Die einde van die era word gekenmerk deur die uiterste uitspattigheid van Marie Antoinette voor die Franse Rewolusie.
Haarstyle van die adelikes, en veral die mans, was die tipiese gekrulde haarstyl – dié wat ‘n mens laat dink aan die haarstyl van vervloë regslui en Britse Parlementslede.
• Neo Classical (1795 – 1810)
     Napoleon Boneparte tree op die voorgrond in Frankryk en sy vrou Josephine sorg vir ’n nuwe tydvlak in die modebedryf - tipiese Empirestyl. Lyne is meer vloeiend en natuurlik (ook baie meer gemaklik om te dra).
• Vroeg Victoriaans (1820 – 1840)
     Hoepelrokke is weer in die mode en middeltjies word beklemtoon maar sonder die stywe korsette van vroeer. Middelpaadjies vir vroue is in die mode en baie vroue begin om kappies te dra. Die 1820 Settlaar Museum buite Grahamstad gee ‘n goeie voorbeeld van die kleredrag van die tyd.
• Middel Victoriaans (1860 – 1880)
     Busseltydperk 1870 – 1880.

Rokke het ‘n steeds ‘n middellyf maar die voorkant is platter terwyl die klem geplaas word op op die rugkant.





Besonderse kledingstuk wat agter oor bussel gedra is - deel van die
Humansdorp museum versameling.






• Laat Victoriaans (1885 – 1900)
     Steeds ‘n uurglas lyf maar die rompe is nouer en meer vloeiend met skaapboudmoue.
• Edwardiaanse (1900 – 1910)
     Kinderklere het ‘n eie snit en mode geword.
Chantillykant in die mode en eerste keer dat wit trourokke mode word.

















Swart romp en baadjie 1920 wat behoort het aan Mev Hannie Wolmarans (31/3/1858 – 20/11/1940) van Eersterivier, Kareedouw. Geskenk deur Mnr P G Wolmarans.







• Georgiaanse (1910 – 1920)
     Hierdie tydperk is gekenmerk dat vrouens begin halse en enkels wys,

• Art Deco (1920 – 1940)
     Gedurende die depressiejare het die klassieke pakkie bestaande uit ‘n bloes, baadjie en romp en klassiese rokke tot hul reg begin kom, veral as werksdrag omdat meer vroue in hierdie tyd vaste beroepe begin beoefen. Die Tweede Wêreldoorlog se uitbreek veroorsaak ‘n skaarste aan materiaal en het tot gevolg gehad dat klere, veral rokke, nouer word. Ritse word gebruik in damesklere vanaf 1920 en in mansbroeke vanaf 1930.

• Modernisme (1950 - 1970)
     In 1950’s het modes in tydskrifte verskyn en beinvloed die damesdrag. In die laat 1940’s word die middellyn weer beklemtoon deur rompe wat wyd uitskop, daarna volg die slooprok en ook die mini. 1960 het safaripakke vir mans ‘n gemaklike netjiese kleredrag geword.

• Post Modernisme (1980 – 2000)
     Modes word toenemend deur leefstyl bepaal en langbroeke, selfs denims, word algemeen deur dames gedra.

     Danksy die besoek van 'n kundige person is die tekstiele behoorlik dateer en word met heel nuwe oë na sekere items gekyk omdat die waarde daarvan nou na behore geskat kan word.