Sulke nietige inligting versterk die besef dat die voorsate omgee mense was en maak hulle in 'n sin meer menslik en nie slegs name en datums nie.
Die Gamtoosrivier se verwoestende oorstomings in 1847, 1867, 1905, 1916, 1932, 1944 en 1961 het gelei tot 'n verlies aan vee, vernietiging van eiendom, wegspoel van vrugbare grond en ook die verlies aan menselewens. Die latere bou van die Paul Sauerdam was daarom nie net om water op te gaar nie maar het ook gedien as vloedbestuur.
Die oorstroming op 5 en 6 Mei 1916, bykans 'n honderd jaar gelede, se lewensverlies was egter die grootste met 'n verlies van 24 menselewens.
Uit verskeie bronne geraadpleeg kon slegs die volgende name van mense wat in die vloed van 1916 gesterf het, opgespoor word:
Strydom ouers en twee van hul kinders by Gamtoosstasie
Pienaar ouers en drie van hul kinders
S P Ferreira en sy vrou
In die vergeelde bladsye van die Re-Echo in die Humansdorpse Museum kan gelees word oor die vernietiging deur die massas water veroorsaak en die koerant van 10 Mei 1916 gee 'n duidelike beeld van hierdie ramp en word in Humansdorp se Groei en Bloei 1849 - 1975 as volg beskryf:
Geen woorde kan die verskriklike verwoesting beskryf wat sedert Woensdag deur die Gamtoosrivier aangerig is nie. Op daardie dag het dit orals begin reën en aangehou tot Sondag. Op sommige plekke is 11 dm. gemeet, en dit word veronderstel dat êrens in die Kougaberge 'n wolkbreuk moes plaasgevind het.
Vrydagoggend om halfdrie het die rivier skielik bo by Andrieskraal afgekom en 'n halfuur later het die Kougarivier met 'n vyftienvoet-hoë golf verbygekom. Teen nege-uur het daar nog 3 tot 4vt. water verbygegolf; daarby het die Grootrivier groot massas rooi Karoowaters deurgevoer, en vanwaar die twee riviere bymekaar vloei, is die hele Gamtoosvallei byna geheel-en-al oorstroom.
Saterdag was die gesig by die Gamtoosbrug angswekkend. Vir myle en myle aanmekaar kon 'n mens niks anders sien as water en nogmaals water. die spoorwegbrug (Sauerbrug) wat teen die jaar 1912 ongeveer 10 voet hoër gehou is as die oue was onder water. Dit gee 'n aanduiding van die ontvang van die verskriklike watervloed wat die vallei bedek het. Die Gamtoosstasie was nou een bruisende rivier, en al die geboue is of totaal weggespoel of hulle was geheel en al onder water. Trokke en passasierswaens het wel nog op die spoor gestaan, maar hulle kon net so af en toe gesien word as die golwende water oor hulle spoel.
Foto: Loerie Quo Vadis |
Dis byna 'n wonder dat daar nie meer as 24 mense hul dood in die water gevind het nie. Die geval van die familie Strydom en Pienaar is allertreurigs. Twee van Strydom se kindertjies is deur swartmense gered en hulle het probeer om nog twee te red, maar toe kom hulle in 'n draadheining te lande, en om hulle eie lewens te red, was hulle verplig om die arme kindertjies aan die genade van die water prys te gee. Altwee ouers is ook deur die vloed weggevoer. Die geweld van die water en van afdrywende stompe, turksvybome, ens. het dit onmoontlik gemaak vir die ongelukkige man en vrou om uit die water te kom. Die hulpgeroep van die moeder het al verder en flouer geword totdat dit eindelik heeltemal weggesterf het sonder dat einge persoon 'n helpende hand kon reik.
Die familie Pienaar het probeer om hulself te red deur in bome te klim, maar die stroom was so sterk dat dit die bome met mense en al meegesleur het. Dit was aangrypend om te sien hoe die moeder wanhopig aan die takke vasgeklem het met haar baba in die arm, en hoe eers die kindjie en daarna sy die water ten prooi geval het. Twee van die dogtertjies het op 'n eilandjie te lande gekom, en dit kon duidelik gesien word hoe hulle aanmekaar vasklou en huil todat hulle uiteindelik saam in die diepte verdwyn het. Die vader het 'n hele ent op die stroom afgedryf voordat ook hy in sy watergraf versink het.
By Quagga is huise, bome, turksvyplante, telegraafpale, heinings, in een woord, alles wat in die bereik van die water gekom het, verniel. Op verskeie plekke waar voor die vloed nog lande was, vloei nou 'n bruisende rivier. Tog is baie lande se vrugbaarheid verryk deur die slik wat op die lande gedryf het. Verskeie eienaars het al hul saailande verloor en die skade wat aan oeste en besproeiingskanale veroorsaak is, is onberekenbaar. menige arm familie wat kort gelede uit die Karoo mnoes vlug weens die droogte, het nou ook weer al hul oeste verloor en is nie alleen dakloos nie, maar ook sonder lewensmiddels.
Daar sou seker baie meer lewens verlore gegaan het, was dit nie vir die moedige optrede van sommige persone nie. Altesaam is 10 lewens gered, en by Andrieskraal het Hans du Preez alleen ses persone van 'n gewisse dood verlos.
Ook skoolgeboue het swaar gely onder die vloed. By Hankey het die gebou ongeveer drie voet diep in die water gestaan terwyl die skool by Groothoek weggespoel het. By Quagga was die skool ses voet in die water en hoewel dit nog staan, is dit baie bouvallig. Ook Buffelshoek se skool was heeltemal onder die water en orals is meublement natuurlik erg beskadig. Een sinkgeboutjie is myle van waar dit gestaan het op 'n sandbank teruggevind, soos later vertel is.
Hulpskemas is orals op tou gesit om noodsaaklike bystand te verleen aan die wat so swaar gesteister is.
In die Re-Echo is erkenning van ontvangs van skenkings vir die rampfonds geplaas en dit is interessant om name van voorsate te sien wat daar verskyn.
Bronne:
Uittreksel uit: Humansdorp se Groei en Bloei 1849 - 1975 deur E.J. Gerryts (bladsye 134 tot 136)
Re-Echo
Die Brullende Leeu getem deur G F Malan.
Loerie Quo Vadis deur Theo Vosloo