20 Maart 2016

BEWARING VAN GENEALOGIESE REKORDS - BETER BEWUSMAKING



'n Epos ontvang van Trevor Muntingh, lid van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, lei tot 'n soektog na 'n boek oor die Ballot-familie in Suid Afrika geskryf deur Prof. F.W.Marx.

'n Uittreksel uit sy epos:
“...Ek is nog `n leek in genealogie, maar het nou wakker geword, en is gebyt, en soek nou hulp.
Ek vors die Ballot familie na waarvan daar lede beide aan my Ma en my vrou se kant was. Informasie oor hulle is maar skaars. Dit skyn dat een van die beste bronne aangaande hulle - Die Ballot-familie in Suid Afrika - is deur Prof. F.W.Marx geskryf. Ek probeer al geruime tyd om die Prof. op te spoor. Hy het blykbaar `n klomp jare terug vanaf Pretoria in Jeffreysbaai afgetree, maar het +- 3 jaar gelede gesterf. Die kontak info wat ek in die hande gekry het, het alles by sy afsterwe verval en kan ek nie sy weduwee of enige ander familielede op spoor nie. Die boek is maar so 120 bladsye dik en dit lyk of die prof. dit self laat druk het en van sy huis af verkoop het. Miskien het sy nasate nog eksemplare.
Ek het gewonder of enige van julle vereniging se lede nie van so bekende persoon van julle stad sou weet nie en miskien enige inligting sou kon verskaf nie. Ek sal ook enige inligting wat ek van die Stone familie kan bekom waardeer..."
Sonder veel moeite word die weduwee Marx (sy word aanstaande jaar 90 jaar oud) opgespoor en sy bevestig dat sy inderdaad nog ‘n kopie van die boek in haar besit het.
Tydens ‘n kuier noem sy dat daar nog heelwat van die Prof se boeke na sy afsterwe in haar besit was, maar omdat sy kinders blykbaar nie daarin belang gestel het nie, is dit in ‘n trollie by een van die plaaslike supermarkte geplaas tydens ‘n boek insamelingsprojek. Verder het sy genoem dat hy vreeslik baie genealogiese dokumente gedurende sy navorsing oor die Marx familie bymekaar gemaak het en dat hulle baie ure in argiewe spandeer het om afskrifte van oorspronklike brondokumente te bekom. Na sy afsterwe is al hierdie dokumente gewoon in ‘n asblik gegooi omdat sy nie geweet het wat om daarmee te doen nie.
Sy was onbewus van die Genealogiese Geselsgroep in Jeffreysbaai, GGSA of GISA wat dalk sou belangstel in al die dokumente.
Wat ‘n reuse skade.....
Mev Marx het toestemming gegee dat die Ballotboek in haar besit gefotostateer kan word en Trevor het intussen gevra dat 3 kopieĆ« daarvan gemaak word sodat een kopie ook aan Dennis Pretorius (http://www.sagenealogie.com/) gegee word sodat dit in die toekoms ook beskikbaar kan wees vir ander lede van die Ballot familie.



Hoe kan groter bewusmaking bevorder word om te verhoed dat waardevolle genealogiese boeke, inligting en dokumente nie op ‘n ashoop beland nie?



Enkele voorstelle:
  • Dit is belangrik dat die naasbestaandes weet wat moet met navorsing, boeke, geskrifte,ens na afsterwe van die persoon gebeur.
  • Maak seker dat wanneer iemand ‘n boek skryf (al is dit net ‘n klein fotostaatboekie) - GISA en of iemand soos Dennis Pretorius ‘n afskrif van die boeke of ‘n digitale kopie kry.
Indien daar sensitiewe inligting is oor lewende mense plaas ‘n beperking op inligting wat bekend gemaak kan word maar verseker dat die inligting bewaar bly vir ander navorsers en ook die nasate.