17 Oktober 2015

VAN DATA TOT BUNDEL








Ek gee myself nie uit as ‘n kenner nie en wil nie met hierdie praatjie sogenaamd voorskriftelik wees oor hoe om te werk te gaan om ‘n boek te skryf nie. My oogmerk is bloot om te vertel hoe ek te werk gegaan het en watter foute ek gemaak het. Dalk kan ek daarmee vir voornemende skrywers baie frustrasie en tyd spaar.






If it is to be, it's up to me!





IKABOD-BESLUIT
Daar kom ‘n tyd in enige genealoog se soeke na inligting van sy/haar voorsate wat hy/sy besef beskikbare bronne is leeggemelk. Dis toe ek besef het ek sal moet besluit waarnatoe gaan ek met die inligting wat ek bymekaargemaak het. Daar was vier aspekte wat ek in ag moes neem:







BEPLANNING
1. Doel: (Wat wil ek doen?)
Ek wou die inligting wat ek reeds versamel het, boekstaaf en op ‘n interessante manier weergee.

2. Onderwerp: (Werk met wat ek het)
Daar is reeds ‘n boek geskryf oor my pa se voorsate, dus het dit my ma s’n gelaat. My inligting oor my ouma se familie, voor- en nasate was karig en ek het keer op keer ‘n doodloopstraat bereik. Al wat oorgebly het was my oupa se kant van die familie – die Möllers, waarvan ek reeds die familielyn tot by die stamvader gehad het.


3. Aard:
a. Vir wie is die boek - Dit moet ‘n boek wees vir die familie oor die familie.
b. Watter soort boek - Dit moet interessante leesstof wees; ‘n koffietafel boek.
c. Wat is die sentrale onderwerp – My oupa, waar hy vandaan gekom het, wat hy vermag het en wie sy nasate is.



4. Uitleg:
Ek moes ook ‘n besluit neem betreffende die uitleg van die boek. Hiervoor het ek na verskeie reeds-gepubliseerde boeke gekyk. Ek het die volgende soorte familieboeke teëgekom:
a. Familieregisters wat slegs die genealogiese data van die nasate van ‘n betrokke stamvader bevat.
b. Familieregisters met hier en daar beskikbare foto’s van voorsate en familieplase ens.
c. Familieregisters met hier en daar stories van voorsate.
d. Familieregisters met stories van manlike lede van die nasate van die stamvader, soos my broer Oswald oor die Jacksons gedoen het.
e. ‘n Boek oor ‘n voorvader met al die betrokke inligting wat beskikbaar is, maar wat soos ‘n historiese roman geskryf is met fiktiewe invulling (padding), soos ‘n historiese roman.
 

• Ek het besluit dat ek my eie opset gaan skep met idees van elk van die bogenoemde voorbeelde: Ek wou in my boek al die genealogiese data invoeg, maar die klem op my oupa en sy nasate laat val en dus hulle lewensverhale skets maar tog in ‘n historiese agtergrondskets wou noem wie die stamvader was, ‘n kort beskrywing wou gee van die omstandighede in Hamburg, Duitsland wat dalk aanleiding kon gee dat hy na Suid Afrika toe gekom het, die skeepsreis en die Kaap in die laat 17e eeu.


DIE 4 B’S
• Beplanning
• Bemarking
• Bestellings
• Betaling
Die groot werk was natuurlik om die inligting van my oupa se nasate te bekom.

MOTIVERING:
As motivering het ek ‘n niggie- en nefiedag in Pretoria gereël. 12 van die 16 lewende niggies en nefies het dit bygewoon. Eers het ons braaivleis gehou buite om die swembad en daarna binnetoe gegaan waar ons konsert gehou en elkeen ‘n beurt gekry het om te praat oor sy/haar kinderdae.

a. Ons het ‘n stamregister van 4 meter laat druk met die inligting wat ek op daardie stadium gehad het en wat ek teen die afdak se muur vasgesit het.
b. ‘n Boek met al die beskikbare data is gedruk en tydens die byeenkoms gesirkuleer. Daar is ‘n spasie gelaat onder elkeen se naam waar hulle hul kontaknommers en e-posadresse moes skryf.
c. Elkeen het ‘n bladsy ontvang met riglyne vir die lewenssketse benodig plus ‘n voorbeeld van een wat ek self geskryf het. Die genealogiese data kom reeds bo-aan na die persoon se naam, dus benodig ek stories oor die persoon se grootwordtye, skool- en universiteisjare, hoe hulle hul gades ontmoet het, watter prestasies hulle behaal het, wat hulle stokperdjes is ens.

HIERARGIE VAN TERUGVOER VAN INLIGTING:
Elke niggie/neef sou verantwoordelikheid vir sy/haar kinders. 6 hoofkontaklede is geïdentifiseer – een wat verantwoordelikheid sal neem vir sy/haar pa en ma en dan sy/haar broers en susters.

PEN TO PAPER:
‘n Paar belangrike punte om in aanmerking te neem met die opstel van die boek:
• Bepaal ‘n realistiese sperdatum vir wanneer jy die boek wil uitgee. Dit hou jou gefokus.
Dit kan ook ‘n histories-belangrike datum vir die familie wees. 16 Junie 1682

• Skryf eers ‘n raamwerk vir die uitleg van die boek. Bepaal hoe jy die hoofstukke wil verdeel; moet dit volgens geslag wees, of volgens familie. Baie tyd word hiermee gespaar.



Foto’s:
     Maak seker dat jy ‘n aparte vouer het met die persoonsfoto’s –
 Jaap het seker gemaak dat hulle ‘n eenvormige grootte is. Bv. 4x3cm.
 Wees spesifiek as jy vir foto’s vra: individuele kop-en-skouer foto’s met vooraansig, sonder   donkerbrille of hoede. As hulle groepsfoto’s is, moet die gesigte nie aan mekaar raak nie;
 Maak gebruik van Facebook;
 Besluit waar jy die foto’s gaan plaas: of jy die foto’s regs of links, onderkant, bokant of langs die genealogiese data wil plaas en hou dit so vir elke persoon. So lyk jy boek georden en netjies;
 Ander foto’s wat nie persoonsfoto’s is nie, soos geboue en skilderye ens, moet in ‘n aparte folder gestoor word. Hulle word ingesit wanneer die boek so te sê klaar is. Ek het slegs vir hierdie foto’s onderskrifte gegee. “Word” maak dit maklik, maar doen die onderskrifte laaste want hulle spring rond as die foto op, of af geskuif word.


Lewenssketse:
 Metode: Ek het elkeen gevra om sy eie lewensskets te skryf. Daarna het ek dit geredigeer en/of vertaal en soms oorgeskryf en teruggestuur vir verifikasie. Die rede: Dis belangrik dat die skryfstyl in die boek deurgans dieselfde is. Daarna het ek dit gestuur vir ‘n taalkenner om weer te redigeer. Eers dan het ek dit in Legacy geplaas. Hierdie metode het ook die finale redigering van die boek makliker gemaak.

 Herhaling: Dis onvermydelik dat inligting in sommige lewenssketse sal ooreenkom. Ek het eers agtergekom dat ek presies dieselfde inligting 3 keer herhaal het toe ek die boek proeflees en moes toe inderhaas die inligting in drie dele opdeel. Elkeen van die drie lewenssketse het dan na twee insidente van die drie verwys maar breedvoerig oor ‘n derde een uitgewy. So het ek die probleem van herhaling voorkom.

NOG IS’T HET EINDE NIET:
• Maak seker dat jou hoofstukke almal op die regterkantse bladsy begin (onewe nommers.)
• Maak gebruik van familiebome, tydlyne ens. wat Legacy vir jou kan genereer om jou boek interessanter te laat vertoon.
• Die genealogiese data wat Legacy genereer is in die verlede tyd geskryf, dus, verander dit om aan te pas by ‘n lewende persoon: Bv. Myra married Jacob Rudolph Jacobus Bosch on 11 December 1971 in Johannesburg. Jacob was born on 12 August 1946 in Braamfontein, Johannesburg. They have (Legacy skryf “had”) three children.

• Index en Inhoudsopgawe
 Alvorens jy ‘n Indeks of Inhoudsopgawe kan generer, moet jy bladsynommers insit. Die probleem met Word is dat hy bladsynommers vanaf die eerste bladsy numeer. As jy ‘n kopieregkennis wil insit of ‘n insetsel waarin jy jou boek aan iemand opdra, of ‘n titelblad, word hulle ook ingesluit by die nommers. Die enigste manier waarop ek hierby verby kon kom is om hierdie bladsye in ‘n ander dokument te plaas. As die boek heeltemal klaar is, en jy dit omskakel in pdf format, dan “merge” mens bloot die twee dokumente deur om jou titelbladsy-dokument vooraan die boek te plaas.

 Die laaste stap as alles klaar is, in is, en geredigeer is, is om ‘n index te genereer. Doen jy dit voor die tyd, is dit ‘n missie as iemand bykom, soos ‘n geboorte of ‘n troue. Dit doen jy deur op die 5e fasiliteit (References) op die boonste “bar” in jou Word-dokument te klik. Tweede van regs is “insert index.” Klik daarop en volg die instruksies. Jy “highlight en “mark” elke naam wat jy in die indeks wil he. Dis ‘n goeie idee om dit in een sitting te doen. Dis ‘n missie om ‘n gemerkte insetsel ongemerk te kry. Ek het per ongeluk iemand twee keer gemerk en ek moes telkens daardie persoon “delete” uit die indeks uit.

 Daarna kan mens ‘n Inhoudsopgawe genereer. Dit kry mens ook onder “References.” Dis die ikoon heel links op die “bar.” Omdat dit ook op die “highlight-and-mark” prinsiep werk, kan jy dalk, soos ek, ‘n probleem ondervind met die opskrifte van die gegenereerde tabelle, lewenslyne en familiebome in Legacy. My voorstel is dat jy die opskrif “disallow” in Legacy en dan jou eie opskrif maak in jou boek. Dan is die hele boek se “Font”-groottes is elk geval eenvormig.

Finale Redigering:
Laat 2 finale kopieë druk en gee een vir ‘n kundige om te lees. Lees die ander een self, maar van agter na voor. Merk foute met ‘n rooi pen of “highlighter”.
Daarna maak jy dit reg op die rekenaar.

BESTELLINGS EN BETALINGS:

 Hou deurgans jou familie ingelig oor hoe vêr jy met die boek is. Onthou, hulle is diegene wat jou boek moet koop, dus moet hulle in afwagting gehou word.

Sodra die boek saamgestel is, doen ‘n volledige kosteberekening van drukwerk, bindwerk en posmateriaal en -geld. Las ‘n paar rand by vir al jou papier en drukkoste in die verloop van jou werk.




 Neem bestellings en gee ‘n “deadline” vir bestellings en betaling. Dit moet betaal word VOOR die boek ter perse gaan. (Ek het ‘n vorm in ‘n tabel per e-pos gestuur)

Druk:

Dring aan daarop om die eerste kopie deur te gaan voordat die res van die boek gedruk word.
Laat ten minste 3 weke toe vir druk- en bindtyd.
Moenie boeke stuur alvorens hul betaal is nie. Dit gaan net tot familietwiste lei.
Laat ekstra boeke druk – oorweeg een vir GISA en FAK ook.

PERSEVERANCE :
"persistence in doing something. despite difficulty or delay in achieving success"
(Oxford Dictionery)

‘n Baie belangrike persoonlikheidskenmerk om te ontwikkel is dikvelligheid.

Myra Bosch (nee Jackson)

Geskryf deur Myra vir 'n praatjie gelewer by die Genealogiese Geselsgroep Jeffreysbaai.