13 Augustus 2015

MOET NOOIT OPHOU SOEK NIE

Vir 6 jaar soek ek al na inligting oor vier van my boeties en sussie wat in die dertig en veertigerjare gebore en oorlede is.
 
Inligting was baie, baie skraps en my ousus van bykans 84 kan nie meer mooi onthou nie en ek het maar enige stukkies en brokkies info wat ek kon kry van my ousus en ouer broer bymekaar gesit soos ek kon.

Ons het ‘n idee gehad van die volgorde van geboorte van die kinders. Ons was 11 waarvan 6 nog lewe.

Die oumense het oor die algemeen elke jaar of 2de jaar kinders gehad en ek kon dus rofweg benaderde datums bereken om mee te werk.
 
Omdat niemand seker was op watter ouderdom die kinders oorlede was nie, het ek die Aangif van Sterfte op FamilySearch deurgesoek vir die dorpe (wat bekend was) vir die jare vanaf benaderde geboorte tot die geboortejaar van die volgende kind wat nog lewe.

Wat dit effens makliker gemaak is is dat wanneer kinders onder 10 jaar oud sterf, die ouer se naam ook getoon word. Saam met dit, asook die naamgewingspatroon kon ek 100% seker wees van die korrektheid van elke kind. Ek het ook ‘n idee gehad waaraan 3 van die 4 oorlede is.

Die FamilySearch soekproses het baie lank geneem. So bv. het ek een kind eers kon vind op dokument no 868 van 1,359 dokumente.

Ek het nou al vier opgespoor en die onrustigheid in my kan nou tot ruste kom.
 
Van hierdie enetjie kon sus net onthou dat dit ‘n baba was wat ‘n paar dae gelewe het:
Cornelius Johannes LATEGAN * 30.11.1937 Modderdrift, Redelinghuys + 7.12.1937 (7dae) Modderdrift, Redelinghuys # Redelinghuys
 
Maar ek is baie hartseer vanaand vir my ouboet wat vir 3 maande moes gely het met kanker voordat hy weggeneem is:
Stephanus Jan LATEGAN (Boetman) * 2.1933 Redelinghuys + 31.8.1945 (12jr 6mde) Tiervlei # Redelinghuys.
Hy was in die Vincent Pallotti Hospitaal is is oorlede aan Lymphatic Leukaemia (Bloedkanker).
 
Geen van hul grafte kon ongelukkig opgespoor word nie.
 
Dit bewys egter net weer dat 'n mens nooit moet ophou soek nie....
 
Geskryf deur Nicky Lategan