23 Julie 2015

HAAIAANVAL IN JEFFREYSBAAI MAAK OPSLAE


Die eerste haaiaanval tydens 'n beroepsbranderry-kompetisie het hier in Jeffreysbaai plaasgevind tydens die eindrondte van die Jeffreysbaai Ope maar gelukkig het die Australiër, Mick Fanning, ongedeerd daarvan afgekom.


The West Australian
(Per epos vanaf Andre T Morkel)
Hierdie gebeurtenis het wêreldwyd opslae gemaak en foto's daarvan het orals op buitelandse koerante gepryk en die tonele is ook op die meeste tv-kanale gewys .

Plaaslik kon toeskouers by die kompetisie die aksie dophou op grootskerm tv 's en wêreldwyd kon kykers op tv en die internet daarna kyk. Vir 'n rukkie is asems opgehou toe beide Mick Fanning en die haai agter 'n brander verdwyn het....Die noodboot en waterponies was gelukkig vining op die toneel om hom uit die water te kry.

'n Ander branderplankryer, Julian Wilson, het ook na Fanning geroei om te gaan help ten spyte van moontlike gevaar wat dit vir hom kon inhou.
 
Die haai word  tussen 2.5 en 3 meter lank geskat maar Fanning kon nie sien watter soort haai dit was nie en slegs die tou wat om sy been en aan die branderplank vas is, is afgebyt terwyl hy en die branderplank geen skrapie opgedoen het nie.

In Oktober 2013 is Burgert van der Westhuizen, 'n inwoner van Jeffreysbraai, deur 'n grootwithaai langs die Jeffreysbaai se kus verskeur. Daar was onlangs ook twee aanvalle langs die Oos-kaapse kus waarvan een by Buffelsbaai, waar 'n student sy been verloor het en 'n ander aanval by Look-out-strand in Plettenbergbaai.