30 April 2014

SETLAARSTOER, 9-10 APRIL 2014

Dit was met afwagting dat die 19 toergangers net voor 0800 by die Nanaga-padstal bymekaargekom het, heel betyds ten spyte van die verkeersdrukte op die N2 in die omgewing van Port Elizabeth, iets wat Jeffreysbaai se mense – en veral Naas – nie meer gewoond aan is nie! ‘n Vlugtige besoek is aan die naby geleë Methodiste-kerkie gebring waar dit heel bedrywig was soos ouers uit die omgewing hul kinders by die naas liggende skooltjie afgelaai het, waarna eetgoed by die padstal gekoop is.

Die konfooi van nege voertuie het daarna koers ingeslaan in die rigting van Grahamstad en die uitdraaipad na Alexandria en Salem, die eerste stilhoupunt, waar die mooi krieketveld (die eerste in Suid-Afrika – 1844) pragtig in stand gehou word. Daar het Trudie die een en ander vertel oor die totstandkoming van die nedersetting – Eerwaarde Shaw se eerste setlaarskerkie (1832) en hoe Richard Gush eiehandig ‘n horde Xhosa-vegters tydens die Sesde Grensoorlog tot bedaring gebring het. Theo het nie op hom laat wag nie en soos hy telkemale ook nog sou doen, op die pragtige orrel gespeel. Buite is die stilte verbreek deur ‘n paar swartkopwielewale wat aanhoudend geroep het terwyl die talle grafte in die begraafplaas besigtig is. Hierdie geboue is almal as nasionale gedenkwaardighede verklaar en so ook talle ander wat ook later tydens die toer besoek sou word.

Trudie het die groep weer aan’t rye gekry na Grahamstad (vernoem na die Britse offisier, Kolonel John Graham). Dit was duidelik dat sy en Tinus deeglik vooraf hul huiswerk gedoen het, want by elke stilhouplek in die studentestad het sy rigting kon gee van waar om te parkeer. Daar is eerstens besoek afgelê by die Albany-museum se provoosgebou, die militêre gevangenis van ouds, enersyds geleë langs die pragtige bome in die Botaniese Tuine en andersyds tussen geboue van die Universiteit. Vandaar is daar na die middestad beweeg, verby die Stadsaal waar Dick King se reddingsrit herdenk word en die “Commemoration” Methodiste-kerk, na die geskiedkundige Camera Obscura (1882) en die museum gevul met memorabilia uit die Victoriaanse era. In Birch se klerewinkel word kasregisters of geldlaaie nie gebruik nie, in stede waarvan ‘n druklugstelsel aangewend word om geld na en van ‘n sentrale punt in die gebou d.m.v. spesiale silinders te stuur – ‘n ware aardigheid vir sommige in die groep.

Dit was opvallend hoe, in eg Britse tradisie, gedenkplate vir veral gesneuwelde soldate uit die betrokke streek oral in kerkies aangebring is. In haas alle dorpe en stede in Engeland, selfs in die kleineres, is oorlogmonumente opgerig, en in Grahamstad is dit ook so. Anglo-Boereoorlog- en Wêreldoorlog-monumente is op sleutelpunte opgerig om die nageslag aan die verskrikkinge van oorlog te herinner, terwyl baie moeite ook gedoen word om naburige ou geboue te bewaar. So word Grocott’s Mail (die land se oudste onafhanklike koerant) na vyf geslagte nog in dieselfde gebou in High Street gedruk, terwyl bekende moderne winkels soos Clicks en Woolworths daarnaas in ou geboue gehuisves word.

Die middelpunt van al hierdie besienswaardighede is Grahamstad se eie Kerkplein en die indrukwekkende Anglikaanse katedraal van St Michael and St George met sy 53.6m hoë toring, die hoogste in die land. Die gebou is in 1952 na 128 jaar se bouwerk uiteindelik voltooi volgens planne wat deur die argitekte Sir George Gilbert en John Scott (pa en seun) opgestel is, en het sy naam te danke aan ‘n versoeningsooreenkoms tussen twee strydende gemeentes (niks nuuts in Suid-Afrika nie!) Van die toerlede het die gebruiklike muis in die gebou raakgesien (die oorsprong van die gesegde “arm soos ‘n kerkmuis”) asook die onooglike wyse waarop woorde op gedenkplate wat sommiges as krenkend beskou het, bedek is. Hoër op in die straat is die Drosdy-hek van Rhodes Universiteit wat Piet Retief gebou het, asook sy eie huis en een wat hy vir Landdros Andries Stockenstrom opgerig het. Die 1820 Setlaars Nasionale monument is op die perseel van Fort Selwyn gebou. Daarvandaan kry mens ‘n pragtige uitsig oor die stad, en op die grasperke onder bome het die groep hul piekniekmandjies uitgepak voordat die reis voortgesit is na Bathurst, al langs ‘n smallerige teerpad wat deur pragtige landskap gekronkel het.

Die dorpie word gesien as Suid-Afrika se “real English village”, met grondpaaie en net die een geteerde pad, dié na Port Alfred. Die eerste besoekpunt, waar Ted Boltman die groep ingewag het, was die oudste onveranderde Anglikaanse kerk in Suid-Afrika wat steeds benut word, nl. die St John Settlers Church wat in 1838 in gebruik geneem is. Tydens verskeie grensoorloë het vrouens en kinders skuiling daarin gesoek en talle setlaars en hul nasate is in die kerk se begraafplaas ter ruste gelê. Ted het vir die groep ‘n kort voorsmakie gegee van die lui van die klok in die toring voordat die talle interessante grafstene besigtig is. ‘n Graf wat nie gesien is nie, was dié van die broodboom- en bewarings-guru Cynthia Giddy en haar man Ted wat in 1998 na ‘n motorongeluk gesterf het.

Hierdie deel van die Oos-Kaap is pynappelwêreld en ‘n besoek is afgelê aan die 15.7m-hoë glasvesel “Big Pineapple” buite die dorp. Tinus het die groep een en ander oor pynappels vertel terwyl daar weggelê is aan vars pynappelsap voordat ons terug gery het dorp toe en die sg. Toposkoop, hoog op ‘n heuwel digby Bailey se landmetersbaken waar die oorspronklike toekenning van grond aan setlaars opgemeet is. Dit bied ook ‘n pragtige uitsig oor die hele omgewing tot sover as die kus, en boumateriaal van oorspronklike setlaarshuisies is gebruik om ‘n muur te bou waarop bronsplate aangebring is om te wys waar spesifieke setlaars gaan woon het. Nodeloos om te sê, is talle van die plaatjies verwyder en pogings is selfs aangewend om van die plaasvervangende veselglas-namaaksels te plunder. Desnieteenstaande het Piet en ander setlaarafstammelinge baie gebaat by hierdie stilhouplek.

In die middel van die dorp is die Pig and Whistle herberg, die oudste van sy soort wat nog in die Oos-Kaap bedryf word. Die oorspronklike gebou was Thomas Hartley se grofsmitwinkel van 1821, en na ‘n gesamentlike aandete het sommige van die groep ook daar oornag terwyl ander in die Summerhill Inn lafenis vir hul moeë ledemate gevind.

Net ses voertuie het vir die tweede dag se program aangemeld en na ontbyt is daar ‘n end in die rigting van Grahamstad teruggery, tot by die Martindale-afrit en ‘n baie stowwerige grondpad tot by Clumber. Daar het die Walkers, wat spesiaal van Port Alfred af gekom het, die besoekers by die pragtige Methodiste plaaskerkie, wat nog in gebruik is, ingewag. Maureen Walker het interessant gesels oor die geskiedenis van die gebou en vertel dat die orrel die afgelope 40 jaar bespeel word deur die 93-jarige Olive Pike. Die oorspronklike hanglampe is nog te sien, maar is nutteloos noudat die elektriese kragopwekker buite werking is. Hulle weet nie wat die toekoms inhou nie, aangesien gereelde kerkbywoners al hoe ouer word en die jonger geslagte slegs by geleentheid kerk toe kom. Die skoolgeboutjie daarnaas, wat nou leegstaan, asook die begraafplaas word duidelik goed onderhou, pragtig geleë met rustige uitsigte oor die berge rondom – ‘n wonderlike plek om vir ewig te rus, het meer as een van die groep opgemerk – terwyl rooiblestinkers in die agtergrond met hul kenmerkende geroep die oggendstilte verbreek het.

‘n Besoek aan Port Alfred was volgende op Trudie se lys en die eerste stilhoupunt was Wharf Street op die oos-oewer van die Kowierivier. Setlaars wat aan hierdie kant gebly het, het hul nedersetting Port Frances genoem, terwyl dié aan die oorkant hulle s’n Port Kowie genoem het. Dit was eers in 1860 na die besoek van Koningin Victoria se seun Alfred dat die naam na Port Alfred verander is. ‘n Gemonteerde anker van ‘n seilskip uit die jare toet was bewys van die bedrywige hawe – die eerste mensgemaakte van sy soort in Suid-Afrika – gedurende die tweede helfte van die 19de eeu. ‘n Besoek aan die vervalle Ferryman Hotel op die wesoewer het gevolg en daar kon talle foto’s van die Port Alfred van ouds gesien word, en by die monding van die rivier was verdere foto’s te sien van die grootse poging om die monding te kanaliseer. Hierdie werk is eerstens deur ene William Cock aangepak en op die berg bokant die rivier het hy sy huis, wat Cock’s Castle genoem is, gebou – deesdae ‘n spoggerige gastehuis genaamd Richmond House. Agter die moderne hospitaal is herinnering aan minder aangename dae - ‘n donker grot waarin moeilike inwoners in die sielsieke-inrigting van ouds weggebêre is. Aan die westelike uiteinde van die dorp is ‘n verdere terugwysing na daardie dae – ‘n begraafplaas sonder grafstene. Individuele grafte van sielsiekes en ander behoeftiges word slegs deur nommers aangedui, maar verdere inligting is onder voorwaarde in die Kaapse Argief verkrygbaar.

Hiervandaan word rigting huiswaarts gekies – met nog ‘n paar stilhoupunte in Alexandria. Trudie het met Maureen Quin, ‘n beeldhouer van formaat, gereël vir ‘n besoek aan haar ateljee en tuin waar tee, koffie en tuisgebakte koekies onder die groot ou jakarandaboom geniet kon word. Talle van Maureen se skeppings is in die tuin uitgestal – twee bloukraanvoëls en twee springbokke (in brons) was baie opvallend tesame met ‘n rits abstrakte beelde – terwyl ander in haar ateljee te sien was, o.a. ‘n lewensgrootte beeld van die beroemde golfspeler Jack Nicklaus. Sy het vertel hoe ‘n beeld die lig sien, van ‘n intensiewe beplanningsfase gevolg deur die eintlike skepping in verskeie mediums tot by die uiteindelike gietproses.

Trudie gaan weer voor, op die teerpad rigting Salem, maar net tot by die fabriek van Chicory SA op linkerhand, op die buitewyke van die dorp. Dit het nie gelyk of daar veel aangaan nie, maar soos Loddie Greyling verduidelik het, is dit nou die plantseisoen en word instandhoudingswerk in die fabriek gedoen. Hy het baie interessant vertel van die verwerking van die produk, die gebruike (Ricoffy, Koffiehuis, Pronutro, ens.) en ook die medisinale voordele wat sigorei inhou. Chicory SA se markaandeel het weliswaar gedaal a.g.v. die invoer van die goedkoper produk uit Indië, maar dit het nou weer kop begin optel vanweë die baie goeie kwaliteit van die plaaslike produk. Die maatskappy vervaardig en versprei hul eie kafeïenvrye Woody Cape Chicory in handige sakkies, gerooster en gemaal, en monsters is goedgunstiglik aan toergangers uitgedeel om self te gaan probeer. (Ilse en Johann het dit inderdaad gedoen – ‘n “anderse”, eie smaak, maar nie onaardig nie, en gaan daarmee volhou). Net voordat elkeen sy/haar koers huis toe gekry het, was die ou skoolgeboutjie in Kerkplaats, soos die dorp destyds genoem is, die laaste stilhouplek. Dit is waar die legendariese Hendrik Spoorbek die vreesbevange setlaars wat in die gebou skuiling teen die Xhosas gesoek het, verseker dat die gebou nie sou afbrand nie.

Daar is tenslotte heen en weer in die skaduwee en op die groen gras rondom die gebou gesels en dank teenoor Trudie en Tinus uitgespreek vir ‘n interessante en insiggewende toer deur ‘n deel van Setlaarwêreld. Almal was dit eens dat baie gesien en geleer is, iets wat sonder Trudie se voorbereiding en vertel nie moontlik sou gewees het nie.

Johann Prozesky

Diek van Wyk skryf: En ook van ons wat die toer die meegemaak het nie, dankie Trudie, en ook Tinus, vir ‘n uitstekend georganiseerde toer, asook aan Johann vir sy lewendig verslag.