30 April 2014

DIE ANDER SY VAN NAVORSING.

.Teen dié tyd is almal redelik bekend met die normale wyse van navorsing. Ek gaan dus nie daarop konsentreer nie. Almal kom op een of ander tyd voor navorsings probleme te staan, en moet maniere vind om inligting omtrent die “geheime” verlede van die voorgeslagte te bekom. By voorbeeld: Die voorgeslagte was tydens hul lewens bewus van veral bankrotskap, aanneem van buite egtelike kinders of familieskandes, en het sodanige “sondes” gewoonlik toegesmeer en as grafgeheime bewaar. Die manier van naamgewing, naamlik dat dieselfde name van geslag na geslag oorgedra was, veroorsaak ook dikwels ook baie probleme vir die navorser.

So ‘n tyd gelede het ’n persoon my gekontak en navorsingshulp in verband met sy Duitse voorgeslagte gevra. Toe ons van die 1820 Setlaar toer terug gekom het, was daar weer ‘n epos van hom af. “Baie dankie vir die inligting, dit het baie ‘gaps’ gevul.” Hy is ‘n beginner en wil by my weet waarom ek hom nie gewaarsku het dat dit verslawend is nie? In so ‘n mate dat hy nou niks anders gedoen kry as om navorsing te doen nie, maar tog elke oomblik daarvan geniet! Soos hy sê: “It is like a drug. I cannot live without it.” Ek laat weet toe, soos iemand eenkeer gesê het, hy het nou ‘n gevaarlike siekte, genaamd Genealogie, onder lede. Die ergste omtrent sy toestand is dat daar nog nooit ‘n middel vir genesing ontdek is nie. Hoe langer jy die siekte onder lede het, hoe erger raak jou toestand, hoe minder is daar hoop op genesing, hoe aansteekliker raak die siekte en hoe meer geniet jy jou situasie!!!!!

My gedagtes gaan terug na toe ek omtrent so 9-10 jaar oud was. My een tannie was bekend as tannie Marie Stola omdat daar soveel Marie’s in die familie was en sy vir almal stola’s gehekel het. Sy was ‘n lopende familie ensiklopedie, wat geboortes, sterftes, huweliksdatums, name en familieverbintenisse afgerammel het. Terwyl sy gesit en hekel het, het ek eendag langs haar gesit en die meeste inligting neer geskryf. Op daardie jeugdige ouderdom het ek nog nie eens geweet dat daar so ‘n woord soos genealogie bestaan het nie. Ek het nie geweet wat ek met die inligting wil maak nie, maar ek het dit neergeskryf. As ek vandag terug kyk, is die eerste saadjie vir my belangstelling reeds daar geplant. Hoe graag sou ek nie vandag langs tannie Marie wou sit en vrae vra nie. Daar is soveel naamlose foto’s, plekke, mense, datums, waar die mense gebly het of wat hulle gedoen het, waarmee sy my sou kon gehelp het. Helaas, soos sy, het die ander ou garde wat inligting kon verstrek, ook reeds “verhuis.”

Doodloopstrate is daar baie. As ek so voor een te staan kom, en die groen takke van die boom raak al minder en droër, dan gaan besoek ek en Tinus die plekke waar die straat doodloop. Ek krap dan in die geskiedenis en ontstaan van die plek rond en vors die ou geboue se bestaan na. So mettertyd voel dit dan vir my of ek die voorgeslag beter verstaan. Heel dikwels het ek so weer ‘n nuwe leidraad gekry wat ek kon opvolg. Soms het ek ‘n deurbraak gemaak en soms kruip my voorgeslag nog weg.

Met ons 1820 setlaar toer het ek die Maria Saal se geskiedenis na gegaan. Die verbintenis van die legendariese Skoorbek/Spoorbek van Humansdorp met die saal het ook weer meegehelp om ‘n stukkie legkaart in die groter prentjie in te pas. Die Maria Saal was aanvanklik gedurende nagmaaltye die tuishuis van Johan Abraham Vogel en Maria Landman. Later het dit as skoolkoshuis gedien.

Gedurende een van die Grensoorloë het die bevreesde kinders van hulle ouers en Spoorbek in die saaltjie met sy strooidak skuiling gesoek. Alhoewel die Xhosas brandende takke op die dak gegooi het, het die dak nie vlam gevat nie. Volgens Marie se vertelling aan my is die strooidak in later jare met ‘n sinkdak vervang. Nie eers paraffien op die strooi van die dak het gehelp om dit te laat vlam vat nie.

Stukkies legkaart wat die groter prentjie help voltooi het, was onder andere die volgende. Ek het vasgestel waar Tinus se oupa se name vandaan kom. Johan Abraham Vogel en Maria Landman se agterkleinseun uit hul dogter, Aletta Frederika Vogel, se huwelik met Barend Daniel Marais, word gedoop Johan Abraham Landman Marais. Die geskiedkundige Maria Saal het aan Tinus se direkte voorsate behoort. Hierdie verhale word die vleis om die genealogiese beendere.

Genealogie is nie iets waaraan jy ‘n paar dae kan werk en al die feite bymekaar kry en probleme oplos nie. Soms neem dit jare. Dit beproef jou geduld tot die uiterste toe. Dis lewendig en beslis nie net ‘n geval van agter die dooies en grafte rondkruip, soos mense met geen belangstelling in navorsing dikwels beweer nie. Deur my stokperdjie het ek al soveel van die wêreld rondom my geleer dat die spel interessant bly. Ek is op die oomblik in ‘n doodloop straat met beide Tinus en my Duitse voorgeslagte. Hier in Suid Afrika en Namibië het ek al die inligting wat ek kon kry versamel. DV wil ons graag weer Duitsland toe gaan om daar inligting te gaan versamel. Ek het alreeds kaarte van die plekke, veral dié wat intussen deur my navorsing bygekom het, bestudeer sodat alles nie vreemd voel as ons weer daar kom nie. Met die nuut gevonde inligting, versamel nadat ons verlede keer daar was, kan ek nou weer daar voortgaan met my soektogte.

Opsommenderwys kan ek sê: Maak seker dat alle inligting, veral as dit mondelings oorgedra word, die regte inligting is. Kry twee of drie bronverwysings om feite te bevestig.

Skryf neer wat kennisse oordra, dit mag dalk nie altyd die regte antwoord vir jou wees nie, maar ondersoek dit. Soms is dit verdraaide inligting, maar waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie.

Voorgeslagte, veral dié wat van oorsee gekom het, se posisies was altyd hoër en beter, gewoonlik het hulle in hulle vertellings uit meer welgestelde families gekom as wat werklik waar was!

Vergelyk jou bevinding van veral foto’s en inligting met ander familielede wat jou belangstelling deel. Soms het iemand se foto’s iets op wat jou foto nie op het nie of daar is agterop geskryf, en jou probleem word op gelos.

Kurators van museums kan heel dikwels ‘n aanduiding gee van byvoorbeeld min of meer die jaartal waarin ‘n persoon geleef het deur na die haarstyl, kleredrag ens. te kyk.

Mense se byname vertel jou waarmee hul geassosieer word, by voorbeeld hul liggaamsbou (lang Piet), Piet Kanon (hy was in ‘n oorlog en was kanonnier), Sarie Melktert (sy was bekend vir haar lekker melktert), en so voort.

Vra vrae terwyl daar nog iemand is wat dit kan beantwoord, môre kan te laat wees. Moenie uitstel nie. (Nog ‘n gevaarlike simptoom van die siekte!)

Skryf die verhaal van ‘n erfstuk neer. As dit by ‘n tweedehandse winkel gekoop was, vra die verkoopsman of jou aankope dalk ‘n storie het. Skryf ‘n kind/familielid se naam daarop wat na jou dood ‘n waardige erfgenaam sal wees en wat jy graag wil hê die volgende besitter daarvan moet wees. Dis jou eiendom waarop jy trots is. Kies self die volgende waardige besitter solank jy nog kan.

As jy nêrens anders het om by te begin nie, begin by jouself. Oor 200 jaar het jy ‘n nageslag wat dankbaar sal wees vir inligting.

Informasie op grafstene gee ‘n mens baie inligting. Selfs dit moet ook bevestig word. Ek en Tinus het my oupa se tweelingbroer se graf in die familiebegraafplaas op die plaas gaan besoek. Groot was my verbasing toe ek sien dat sy geboortejaar as 1867 in plaas van 1866 aangegee word. Oumagrootjie het dit in haar eie handskrif in die familie Bybel as 1866 vir die tweeling neergeskryf. Dit word ook so op oupa se doodsertifikaat as “gebore 1866” aangegee.

Ons het geweet groot oumagrootjie lê in die St Marks Katedraal gronde begrawe. Dit het haar grafsteen ook bevestig. Ek het nie geweet waar die oupagrootjie en een van hul dogters begrawe is nie. Op ‘n dag het ons deur George gery. In die kerkregister het ek al drie se doodsinskrywings gekry. In die gang voor die kantoor het ‘n geraamde uitleg met die grafposisies en name daar langsaan van al die gestorwenes gehang. Oumagrootjie se graf was duidelik gemerk en langsaan twee “unknown graves.” Die feit dat groot-oupagrootjie en die dogter se naam in die kerkregister was en daar geen ander onbekende grafte was nie, het my soektog beëindig. Die twee onbekende grafte was die grafte waarna ons al lankal gesoek het. Toe die groot-oumagrootjie oorlede is, kon die groot-oupagrootjie nog vir haar ‘n steen opsit. Hy het kort daarna baie siek geword en hy en die dogter is binne ‘n jaar daarna oorlede. Met sy afsterwe was die ander twee kinders nog baie jonk en so het daar nooit ‘n steen op groot-oupagrootjie en sy dogter se grafte gekom nie.

Ek beoefen ‘n stokperdjie wat wêreldwyd die vinnigste toeneem, wat interessant is, wat my baie omtrent die wêreld rondom my leer. ‘n Stokperdjie wat die verlede laat herleef, my help om myself beter te verstaan, my laat besef waarvandaan ek kom en waarheen ek op pad is.

Ek geniet my stokperdjie. Geniet joune ook.

Trudie Marais

Diek van Wyk skryf: En hoe aansteeklik is dit nie om Trudie se storie van haar genealogiese aandoening te lees nie!