26 Maart 2014

BYBELVERTALING

Die Ou Afrikaanse Bybelvertaling (OAV) het in 1933 verskyn. In 1983 het daar ‘n nuwe vertaling (NAV) verskyn en tans, 31 jaar later, is daar ‘n derde vertaling in voorbereiding. Dan is daar ook nog Die Lewende Bybel (DLB). Die vraag is dus: Waarom telkens weer vertaal? Die antwoord is dat opvattings en teorieë oor vertaling voortdurend verander, dat kennis van die grondtale van die Bybel steeds toeneem, en dat voortgaande argeologiese ontdekkings soos die Dooiseerolle (1945) en die Nag Hammadi-tekste (1947) steeds tot ons kennis van die Bybelteks bydra. Bybelvertalers word dus telkens gekonfronteer met die vrae: Wat moet ons vertaal? en: Hoe moet ons vertaal? En dan bly daar nog probleme i.v.m. die oordrag van Bybelspesifieke begrippe. Dié drie probleme word kortliks bekyk


Wat word vertaal?

Die oorspronklike teks van die Ou Testament (OT) is onherroepelik verlore. Wat ons het, is oorblyfsels van tekste wat onvoorstelbare kere oor en oor gekopieer is. In die proses het daar noodwendig veranderinge ingetree en gevolglik verskil die teksreste soms onderling aansienlik.

In die geval van die OT is daar twee tekstradisies, nl. dié van die Septuaginta en dié van die Masorete. Die Septuaginta is ‘n Griekse vertaling van OT geskrifte wat vanaf 200 vC dateer en wat naas die sg. wet, profete en geskrifte ook ‘n aantal boeke bevat wat nie in die masoretiese tradisie voorkom nie. Die Septuaginta was die NT van die vroeë Christene. Dit is opgeneem in die vroegste Bybelvertalings en het deel geword van die Katolieke se OT kanon. Die Masorete, ‘n groep Joodse geleerdes, het die wet, profete en geskrifte, wat na die val van Jerusalem in 70 nC die Joodse kanon geword het, gekodifieer in tekste waarvan die sg. Codex Leningradensis die volledigste bewaar is. Die Joodse kanon het die OT kanon van die Protestante geword, met die gevolg dat dié boeke wat via die Septuaginta in Katolieke Bybels verskyn, deur Protestante as apokrief beskou word.

Die Codex Leningradensis is opgeneem in ‘n kritiese uitgawe bekend as die Biblia Hebraica Stuttgartensia (BHS), waarin na alle bekende teksvariante verwys word ten einde die bes moontlike vertaling te bemiddel. Die BHS is die grondteks van alle moderne Bybelvertalings. Dit is dus die “OT” wat vertaal word.

In die geval van die Nuwe Testament (NT) is die prentjie tegelyk meer en minder gekompliseerd. In die eerste drie eeue nC was daar ‘n groot verskeidenheid groepe Christene, waarvan baie hulle eie gesaghebbende geskrifte gehad het wat verlore gegaan het. Vandag dra ons kennis van minstens 15 nie-kanonieke evangelies (insluitende een van Judas!), 5 handelinge van apostels, 13 sendbriewe (insluitende ‘n 3de brief aan die Korintiërs), en 7 openbaringe.

Verskeie skrywers het hulle met die probleem van kanonisiteit besig gehou, o.a. Origenes van Alexandrië en die kerkgeskiedskrywer Eusebius. Die vroegste en enigste uiteensetting van die volledige NT kanon waarvan ons weet, kom van Athanasius van Alexandrië, wat dit in 323 nC in ‘n paasbrief uiteengesit het. Dié kanon is bevestig deur die streeksinode van Kartago in 397 nC, maar, sover bekend, is dit nooit amptelik deur die kerk self bevestig nie. Alle ander geskrifte uit die vroeë Christendom word vandag as apokrief beskou.

Die oorspronklike teks van die NT is ewe-eens onherroepelik verlore. Wat beskikbaar is, is ook tekste en teksreste wat soms aansienlike onderlinge verskille vertoon. (Vgl. Markus 16:9 in die NAV vir ‘n voorbeeld). Die tekste wat as die gesaghebbendste vir Bybelvertaling beskou word, is die Griekse uitgawe van die United Bible Societies en Nestle-Aland.

Hoe word vertaal?

Die OAV was ‘n sogenaamde ‘n teksgetroue vertaling. Die NAV was ‘n dinamies ekwivalente vertaling. Waar die OAV hom streng by die teks gehou het, wou die NAV die teks laat spreek soos dit vir die gehoor van die tyd gespreek het, dit moes m.a.w. verstaan word soos dit oorspronklik verstaan is. DLB is daarteenoor ‘n vrye vertaling wat die teks wil laat spreek in ‘n idioom wat vir die hedendaagse leser verstaanbaar is.

Daar is verskeie ander benaderings tot vertaling, o.a. woord-vir-woord vertalings wat die grondteks letterlik woord vir woord volg. Eks. 20 sou daarvolgens so begin: “Ek God-jou wat uitgelei-het-jou uit-Egipte uit-huis knegskap”. Daar is ook vrye vertalings wat idiomaties so ver van die grondtekste verwyder is dat hulle parafrases genoem kan word. In Ps. 1 in The Message word uitdrukkings soos “you don’t slink along Dead-End Road”, “you don’t go to Smart-Mouth College” en “you chew on Scripture day and night” bv. gebruik. Hiervandaan is dit ‘n kort tree na hervertellings, of oorvertellings, soos ons dit onder meer in kinderbybels vind.
Elke tipe vertaling het sy probleme. Teksgetroue vertalings is soms onverstaanbaar sonder agtergrondkennis. Dinamies ekwivalente vertalings hou weer die gevaar van interpretasie in plaas van vertaling in. Dit is ook nie moontlik om die oorspronklike leser se verstaan van die Bybelse teks bloot deur vertaling vas te vang nie. Die gevaar van interpretasie i.p.v. vertaling geld trouens vir enige ander nie-teksgetroue vertaling.

Vir die ernstige Bybelleser is die ideale vertaling ‘n teksgetroue vertaling voorsien van agtergrondinligting by wyse van voetnote. Hoewel nie ideaal nie, is die beste voorbeeld hiervan die NIV Study Bible. Dit wil voorkom of die Afrikaanse vertaling wat in voorbereiding is, ook in dié behoefte kan voorsien.

Probleme i.v.m. Vertaling

Daar is sekere begrippe wat spesifiek aan die Bybelse kultuur was en nie presiese ekwivalente in die tale het waarin vertaal word nie. In Daniël 3:3 word daar gepraat van ‘n aantal staatsampte wat nie met sekerheid vasgestel kan word nie en wat dus heeltemal verskillend in verskillende Bybels vertaal word. In Daniël 3:5 gaan dit weer om musiekinstrumente waaroor nie duidelikheid bestaan nie en wat gevolglik ook verskillend in verskillende Bybels weergegee word.

Dan is daar begrippe waarvoor slegs benaderde ekwivalente gevind kan word, soos mate, gewigte en geldeenhede. Die bekende begrip el het bv. verwys na ‘n voorarmlengte, dus min of meer 18 duim in die ou taal. Hoe gee jy dit in vertaling weer?

En dan is daar kultuurspesifieke begrippe wat veral in eksotiese tale vindingryke oplossings van vertalers vra. Eskimo’s ken nie skape nie en verstaan dus nie die konsep “lam van God nie” nie. In die plaaslike Afrika-kulture het daar nie simbale bestaan nie. Gevolglik moes die woord vir tamboer in plaas daarvan in 1 Kor. 13 gebruik word.

Die woord vir God is ook problematies in kulture met Godskonsepte wat nie ooreenstem met die Bybelse God nie, maar veral in kulture met politeïstiese religieë, soos in Japannees waar die woord Kami aangepas moes word by die Bybelse God. En dan ook in kulture met vae of geen godskonsepte nie. In sulke gevalle moet ‘n bestaande Godskonsep aangepas word of moet ‘n Godsbegrip nuut geskep word, soos in Nama waar die Hebreeuse woord Elohim aangepas is tot Elob.

Die Hebreeuse woord Jahweh lewer ook probleme op. In Hebreeus word dit nie uitgespreek wanneer dit gelees word nie, maar word dit deur die woord Adona(i) “heer” vervang word. Die meeste tale gebruik een of ander ekwivalent van Adona(i), soos “heer, meester, baas” ens. Sommige verkies egter die woord Yehova wat ‘n hibridiese vervorming van die konsonante van Jahweh (YHVH) en die vokale van Adona(i) (aoa) is. Frans gaan ‘n ander ‘n weg op deur te praat van “die Ewige”. Die Xhosa-Bybel het ‘n unieke oplossing: sy vertaling is Undikhoyo “die Ek-is-een”.

Diek van Wyk