26 Maart 2014

FAMILIENAVORSING : Theodorus Daniel du Plessis

MY ERVARING AS FAMILIE NAVORSER
(Theodorus Daniel du Plessis 24.6.1792 – 3.11.1860)

Inleiding.
Dit is altyd vir families fassinerend om van hulle Europese voorvaders te weet en heimlik te wonder oor die baronne, prinse en aristokrate wat moontlik in die voorvaders aanwesig was. Almal is dit nie beskore nie en daar moet volstaan word met die werklike situasie en bevindinge wanneer objektiewe navorsing gedoen word.


Die motivering vir my navorsing.
Ek het ‘n verbintenis met du Plessis aan moederskant en was vroeg reeds bewus van ‘n du Plessis-straat in Humansdorp en dat daar ‘n familieverbintenis is. Verder het ek ook geweet dat die name “Theodorus Daniel “ ‘n sterk familienaam is wat redelik in die wyer familiekring in gebruik is. Dit is egter so dat hierdie name nie uniek is nie en ook in ander families voorkom.
Laastens het die dood van my ma my gelaat met ‘n tas vol briewe, begrafnisbriewe, troukaartjies, verjaardagboekies, doopseels, koerantuitknipsels, en ‘n aantal familiefoto’s waaroor daar egter weinig bekend is. Vir ‘n nuuskierige met ‘n ondersoekende gees was hierdie “erfporsie” die aansporing vir verdere ondersoek.

Die proses.
Die maklike deel van die ondersoek was om die beskikbare name eers so ver as moontlik in die stamboom op te stel. Daarna het gevolg om die ontbrekende datums by te voeg. Ewe skielik het ek besef dat die ontbrekende inligting nie altyd so maklik verkrygbaar is nie.
Sonder om verder die metodiek vir die navorsing te bespreek of om die verskillende beskikbare bronne vir raadpleging te bespreek, gaan ek ‘n paar probleme uitlig wat ek tydens my navorsing ondervind het.

Uitdagings of slaggate.
Name is onvolledig; byvoorbeeld die tweede naam ontbreek. Volgens sommige amptelike dokumente is daar slegs een naam terwyl die doopregister meer as een naam aandui. Die mees verwarrende geval is waar die person die amptelike name het, bv. die noemnaam “Okkie” word gebruik terwyl dit geen verband hou met die amptelike name nie. Die betrokke persoon het wel ‘n broer gehad met die naam van “Ockert”.
Alle vorme van spelling kom voor en verskil van een na ‘n ander dokument. Selfs die spelling van name op grafstene verskil van dié in amptelike dokumente. So het ek Saaiman/Saayman en Zaayman gekry wat na dieselfde peroon verwys. Ek het ook gekry waar ‘n person haar eie van verskillend geskryf het as die spelling in amptelike dokumente.
Datums verskil, soms nie net in dokumentasie nie maar verkeerde datums op grafstene. Die sterfdatum van ‘n sekere T.D. du Plessis verskyn as 1908 op sy grafsteen terwyl dié van sy sterfkennis ‘n datum van 1909 aandui. Die sterfdatum van ‘n sekere J.P. du Plessis word aangegee as 1949 sowel as 1950. Verder word sterfdatums van 3.11.1860 ook verkeerdelik aan ander TD du Plessis afstammeling gegee, met gevolg dat nasate ouer as hulle voorouers is.
In sommige bronne word doopdatums aangetoon en nie die geboortedatums nie. Die fout word dan maklik gemaak om die doopdatum as geboortedatum te gebruik.
Plekname word soms verkeerdelik gebruik vir ‘n dorp. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die plaas Misgund in die wyk Olifantshoek, distrik Uitenhage en die plaas Misgund in die wyk Suurbron naby Humansdorp, wat verwar word met die dorp/nedersetting Misgund in die Langkloof. Volgens sommige navorsers is die sterfplek van Jacobus Johannes du Plessis die dorp Misgund in die Langkloof terwyl hy op sy plaas Misgund in die wyk Suurbron hier naby Humansdorp oorlede is.

Om geldigheid en betroubaarheid te verseker.
Wanneer navorsing beoordeel word, word dit gemeet aan die vereiste van betroubaarheid en geldigheid. Dit beteken dat wanneer dieselfde navorsing deur ‘n ander navorser herhaal word, die bevindinge dieselfde behoort te wees. Geldigheid en betroubaarheid word verseker wanneer die navorser baie noukeurig te werk gaan in sy benadering tot die navorsing.
Die versoeking is groot om inligting wat op die verskillende webtuistes op die internet verskyn, slaafs te kopieer. Dit is juis hier waar groot foute begaan word en die ondeurdagte kopiering van inligting erge ongerief en verwarring veroorsaak. Moenie dus alles onvoorwaardelik as korrek aanvaar nie, behalwe as daar ‘n defnitiewe bron is wat later weer geraadpleeg kan word om die inligting te verifieer.

My ervaring het geleer dat dit absoluut noodsaaklik is om reg van die begin van die navorsing alreeds baie noukeurige notas te maak en ook verwysings na die verskillende bronne te maak. Dit maak die proses van kontrolering net makliker.

Slotopmerking.
Laat jouself toe om voldoende tyd vir die navorsing te gebruik en dit nie te jaag nie. Dit kan groot teleurstelling voorkom.

Theo Vosloo M.Soc.Sc (UOFS)