12 Februarie 2022

GENE, GESONDHEID EN LEEFSTYL



Op 26 Mei 2015 het Mev Anita van der Merwe oor gene, gesondheid en leefstyl gesels tydens die Genealogiese Geselsgroep in Jeffreysbaai se maandelikse byeenkoms.

Hierdie merkwaardige en bedrywige dame is amper 85 jaar oud en het sonder om na haat notas te kyk vir ongeveer 45 minute gepraat en hier volg 'n opsomming van haar interessesante praatjie:

"Genealogie beteken: studie van afstammelinge.

Dit geen insig waar jy eintlik vandaan kom. Is jy bevoorreg of minder bevoorreg gebore? Wat gaan jou kanse in die lewe wees? Is jy moontlik 'n Einstein, Bill Gates of Mozart of net 'n gewone mens?

Die Here geen ons verskillende talente vir die lewe en daar kan bepaal word watter familie meer geneig is om sekere siektes op te doen of draers daarvan is. Miskien kan mens met leefstyl wel iets daaraan doen.

Ter agtergrond wil ek iets omtrent myself vertel' My ouers was albei van Duitse afkoms. My moeder se voorouers het in 1856 na die Krim oorlog (sien voetnota vir meer inligting oor oorlog) na die Oos-Kaap gekom. Hulle het naby King Williams Town grond gekry om op te boer. My ouma se nooiensvan was Weiss en getroud met 'n Bahlmann. My oupa Oslerloh het uit Duitland saam met 'n vriend in Suid-Afrika geland maar was eintlik oppad na Australië.

Hy trou met 'n nooi Spärg (een van 11 kinders) waarvan daar tans baie afstammeling in die Transkei voorkom. My oupa Bahermann het vinning vooruitgegaan - 'n mooi huis gebou en een van die eerste motorkarre besit terwyl mede Duitsers nog met kar en perde gery het.

Ons het vanaf  die Transkei gekom na die Kerk op Frankfort om Paasfees, Kersfees, Doop en troues by te woon. My ouers het vroeg na standard 6 die skool verlaat. My pa het in sy neef se handelspos ("trading store") begin as klerk en op 17 jarige ouderdom het hy en my ouma 'n handelspos in die Willowvale distrik gekoop +/- 1918.

Tien jaar later is my ouers getroud en daar is 7 kinders uit die huwelik gebore - 6 dogters en een seun. Die Transkei is 'n paradys en ons het as kinders 'n wonderlike lewe gehad. Daar was volop vars groente en vrugte, vars melk en natuurlik baie vars lug. 'n Wonderlike voorreg...

Aan huis het ons Duits gepraat, Xhosa met die werkers en Engels op skool en as algemene voertaal met ander mense. 'n Handelspos is ongeveer 10 akker. Ons het beeste, varke, hoenders, ganse, eende en perde ook gehad. Ons het by die rivier gaan swem, perd gery en ook 'n tennisbaan gehad. Middel van standard 6 is ek en my suster na 'n High School waar my Duitserige Engels afgerond is. Na matriek is ek Tukkies toe met powere Afrikaans maar op 21 behaal ek 'n BSc huishoudkunde graad.

Die volgende jaar kry ek 'n junior pos in die huishoudkunde afdeling terwyl my kêrel, en toekomstige man, sy finale jaar tandheelkunde gedoen het.

Ek was nie 'n "Career Woman' nie en bedank aan die einde van dieselfde jaar om te trou in 1953 en beland so op Humansdorp. Ons het 5 kinders en 14 kleinkinders. Die kinders en kleinkinders het almal goed gevaar met die akademie - dit is waar die gene inkom - vyf van my man se broers het doktorsgrade gekry.

Maar daar moet egter nie vergeet van die rol wat leefstyl speel nie:

Hoe leef jy reg? Hoe word jy 85 oud met net 'n paar skete?

Ek het 3 jaar voedingsleer "geswot" in my studiejare en omdat dit steeds 'n passie is onlangs 'n boek as geskenk van my kinders oor die onderwerp  gekry en daarin is 'n hoofstuk wat hander oor "Turning back te Clock" en dit was natuurlik die eerste een wat ek gelees het.

Die volgende algemene riglyne vir 'n gesonde leefstyl:
  1.  Vermy gebrande kos, uitlaatgasse, rook en sterk sonlig
  2. Eet baie groente en vrugte want dit bevat baie anti-oksidante. Dis die kwaaddoener elemente van preserveermiddels, kleurstowwe wat aanleiding gee tot kankers en wanfunksionering. Eet baie groen groente, boontjies en vele ander.
  3. Eet net genoeg. Met navorsing met rotte is gevind dat rotte wat net genoeg geeet het, het langer geleef as die vettes. Ons is natuurlik nie diere nie maar dit kan wel 'n indikasie wees.
  4. Bly fiks deur matige oefening. Jy hoef nie 'n marathon te kan hardloop nie maar deur gereeld 20 minute te stap, huis skoon te maak of in die tuin te werk word maklik 10 jaar by jou lewensverwagting gevoeg.
  5. Vermy spanning en stress. Dit is nogal 'n moeilike een - weet julle hoe gestres was ek oor hierdie praatjie van vandag?
  6. Laat jou bloeddruk, suiker en algemene gesondheid gereeld toets
  7. Bly aktief, sosialiseer, lees, stel belang in alles om jou. Jou brein kan atsofeer soos 'n liggaam wat net sit.
  8. Met my 75 ste verjaardag was my leuse: Sonder entoesiasme is jy dood. My man het gesê ek sal net doodgaan indien 'n bus my trap....
  9. Gebruik byvoegings soos Omega 3 vir die are, magnesium en zink vir die hart en B-kompleks vir die brein. Wees egter versigtig vir oordosseer. 'n Gesonge gebalanseerde leefwyse is die kern van goeie gesondheid.    

Die groot moenies in jou dieet:

Die winkelrakke is oorvol van koekies, koek, beskuit, lekkers, koeldranke, vrugtesappe en witbrood - verfynde produkte. Wanneer bruinmeel verander word na witmeel gaan 70%van die goeie bestanddele verlore in die produk. Bogenoemde produkte kan verlawend wees en baie van die verfynde produkte is "money spinners".

Daar is soort op soort margarien op die rakke - ek eet dit glad nie. Dit bestaan uit verskillende harde vette en olies en om dit soos botter te laat lyk word word 'n chemise proses gebruik. Vetter en olies bestaan uit vetsure en gedurende die chemise proses verander die vetsure se struktuur om dit smeerbaar te maak en word kleurstowwe bygevoeg - dit eerste margarine was wit.

Die veranderde vette sit makliker in jou are vas en die kunsmatige kleurstof mag kankervormend wees.

Botter matig gebruik is 'n beter opsie.

Volroom melk is al wat ek gebruik.

Oormatige gebruik van suiker :
Volgens wereldgesondheids standaarde behoort mense maar 10 teelepels (40 gram \) suiker daagliks in te kry maar meeste mense oortree. 'n insulien weerstandigheid kan ontwikkel wat beteken dat die liggaam nie meer reg kan funksioneer nie.

Wanneer jou suiker getoets word moet die lesing nie meer as 4.9 wees nie. Sodra te veel suiker die sisteem aanhoudend oorlaai moet insulien aangevul word. My ma se familie was diabetes lyers, ouma oorlede op 63, ma oorlede op 73 terwyl my pa eers op 85 oorlede is.

Ek wil d.m.v. 'n gesonde leefstyl met min verfynde suiker en koolhidrate my stamboom se geskiedenis kan verbeter.

Daar is ook 'n teorie dat baie verfynde suikers en stysels 'n tipe ontsteking veroorsaak wat Alzheimers en demensie kan bevorder. Eet ook baie vis en min vleis.

Onlang 'n nuwe horlosie gekoop wat kom met 'n vyf jaar waarborg en derhalwe wil ek waarde vir my geld kry en nog vyf jaar leef.

Om gemoedsrus en stabilitiet in jou lewe te handhaaf moet jy die Here erken as jou leidsman en dat jou liggaam 'n tempel van die Here is en sonder Sy wysheid, genade en seeninge sal jy nie die rus en vrede ontvang wat ons almal na smag in hierdie aardse bestaan nie - al volg jy ook 'n wonderlike leefwyse.

 
Voetnota:
Tydens vraetyd het Tiaan Jacobs aangevoer dat die Krimoorlog moontlik ‘n rede vir Anita se voorsate se verhuising kon wees :

“ Die Krimoorlog is deur die Verenigde Koninkryk, Frankryk, die Koninkryk Sardinië en die Ottomaanse Ryk teen die Russiese Ryk gevoer op die Krimskiereiland vanaf Oktober 1853 tot Februarie 1856.

Die Russiese tsaar Nikolaas I wou die beskermheer van die heilige plekke van Palestina word en het Moldowa en Wallachye in 1853 beset. Die Verenigde Koninkryk en Frankryk het gevrees dat Rusland 'n rol gaan speel in die Middellandse See en het Turkye gehelp. Die bondgenote het Sewastopol op die Krim aangeval en ingeneem.”

Met die uitbreek van die oorlog het duisende werklose Duitsers hulle by die geallieerde magte aangesluit om teen die Russe oorlog te voer, hoofsaaklik omdat die ekonomie in Duitsland op daardie stadium baie swak was en werk uiters skaars was. Die Duitse regering van die dag was nie baie geneë daarmee nie, omdat hulle nie op goeie voet was met die Verenigde Koninkryk nie.

Die oorlog was van korte duur en met die beëindiging daarvan, wou Duitsland nie hul burgers wat daaraan deelgeneem het, terugontvang nie. Die gevolg was dat die meeste Duitsers uitgewyk het na Engeland, wat ‘n gaping gesien het om hulle na die Britse Kolonies te stuur as kolonialiste.

Tussen 1848 en 1858 het groot getalle Duitse immigrante hulle in die Oos-Kaap, veral rondom Oos-Londen, gevestig - in 'n gebied wat deur die Britse koloniale owerheid as 'n soort buffersone tussen blanke gebiede en die Xhosa-stamland geskep is. Sowat 4 000 Duitse setlaars het hier 'n nuwe tuiste gevind nadat hulle gratis seevervoer en finansiële steun ontvang het.


Mev Anita Frieda van der Merwe is oorlede op 24 Januarie 2022 -  sy was 91 jaar oud en die horlosie se waarborg het verval in 2021....