24 September 2014

KORT OPSOMMING VAN GENL JAN HENDRIK OLIVIER SE LEWE

Ek glo Generaal Jan Hendrik verdien 'n bladsy van sy eie! Ek het 'n klompie baie interessante foto's van Okkie de Jager (Genl Olivier is sy oupagrootjie) ontvang asook baie interessanthede in sy e-posse aan my. Ek plaas die e-posse asook die interessante foto's asook foto's wat ek alreeds gehad het op hierdie bladsy. Ek het ook baie interessante aantekeninge van generaal Olivier van sy kleindogter, Maria Oosthuyzen, ontvang wat ek ook al gedeeltelik geplaas het. Die aantekeninge het hy gehou in die Diyatalawa kamp op Ceylon.


Maar eers Okkie se e-posse:
E-pos 1:
Ek het die Oorlogsmedalje van "Assist. Hoofd Kommandant Jan Hendrik Olivier". Hy was my oupagrootjie. Sy een dogter (my ouma) was Johanna Olivier wat met Ockert Cornelis Brits van Roodedraai in 1916 getroud is. My ma (Mara Brits) is uit die huwelik gebore. Sy is getroud met my pa (Marthiens de Jager).
Iewers het ek gelees dat Olivier tweede in bevel van die Vrystaatse magte (naas de Wet) was.
E-pos 2:
My ma het my vanmiddag hierdie fotos gegee. Ek het dit gou ingescan. Dit is van JH Olivier en sy tweede vrou (JFG Uys) in 1888 afgeneem. Goeie toestand. Jy sien sy is verwagtend met my ouma Johanna Olivier .
Ek het eerstens na die Ererol van die DTD dekorasie gaan kyk omdat ek glo dat dit altyd wys is om enige DTD toekenning aan die hand van die Lys van Ontvangers te toets; slegs 662 toekennings was gemaak, waarvan net 1 aan ‘n “burgher”. Die ander was almal aan offisiere.

Interessant is dat Genl CR De Wet nooit sy Dekorasie opgeëis het nie.

Sien uitreksels uit die Ererol hierby aangeheg, ter bevestiging van hierdie eerbare Generaal se toekenning in rooi gemerk.
Grobbelaar, N. J. Veldkornet en Adj. Liversage, J. P. J. Luitenant Olivier, J. H. Ass. Hoof. Komdt.
Dit is dus korrek dat Genl. Jan Hendrik Olivier tweede in bevel van die Vrystaat magte was. Genl Olivier se dekorasie, in besit van Okkie Joubert hierbo vermeld, kan honderde duisende rand werd wees.

Regulasies tot die uitreiking en toekenning van die baie gesogde DTD is o.a. soos volg :
“The Dekoratie voor Trouwe Dienst Anglo-Boeroorlog 1899-1902 (DTD) was the Boer officer's decoration for devoted and meritorious service during the Boer War. The regulations for the award of the DTD were published in the Government Gazette of the Union of South Africa number 2307 on 21 December 1920. The application form for people to be awarded the DTD was called Form A.

The description said the decoration should be 'silver, circular, with the coat-of-arms of the South African Republic and the inscription 'Voor Trouwe Dienst 1899-1902' on one side, and the coat-of-arms of the Orange Free State and the inscription 'Voor Trouwe Dienst 1899-1902' on the other side, with the name and rank of recipient engraved on the edge'.
The colours of the ribbon are red, green, blue, orange and white. The ribbon uses the Boer Republics' national flag colours”.
Die rangorde van hierdie Dekorasie op die bors van ‘n Ontvanger, was selfs hoër as dié van die Order of the British Empire (O.B.E).

Verdere Interessanthede van Generaal Jan Hendrik Olivier
Jan Hendrik Olivier is ongeveer 1856 gebore op Rooiwal en op 30 Mei 1930 oorlede. Hy was Vrystaatse Volksraadslid en Boeregeneraal. Hy trek met sy ouers na die distrik Zastron en sluit op 15 jarige ouderdom by OVS grenspolisie aan en word twee jaar daarna veldkornet in die distrik Zastron-Rouxville. Vir sy deelname aan die oorlog teen Moshweshwe, word aan hom die plaas Olifantsbeen in die wyk Vechtkop (tans Dist Zastron) toe¬geken, waar hy 47 jaar lank boer.
In 1883 word hy volksraadlid van Caledonrivier en met die uitbreek van die ABO voer hy as kommandant bevel oor die Rouxville-Zastron kommando, en van 3 OVS komman¬dos wat ten noorde van die Oranjerivier geplaas word om De Aar, Nou¬poort en Stormberg te annekseer. Daar was 4 seuns saam met hom op kommando en 1 sneuwel in Natal.

Op 13 November 1899 beset hy Aliwal-Noord. Hy trek na Burgersdorp, Jamestown en Barkly-Oos. Hy beset Stormberg met 1700 man op 26 November 1899. Die slag van Stormberg 10 Desember 1899 was 'n oortuigende oorwinning, maar word ongelukkig nie opgevolg nie, want Olivier wou nie op 'n Sondag veg nie. Hy val terug op 11 Maart 1900 in die rigting van Ladybrand en neem deel aan CR De Wet se opmars in die suidoostelike Vrystaat teen Gatacre en Gen Maj EY Bradant se koloniale divisie in Maart en April 1900 en by Thaba Nchu.
Die foto links is van genl. Olivier en 9 ander mans wat aan die Stormberg-veldslag deelgeneem het, goedgunstiglik voorsien deur Nico Vermaak van Randburg. Vier van die mans is Oliviers en die ander vyf onderskeidelik Adendorf, Besuise, Jooste, Muller en Smit (Groot Hendrik Smit).
Hy trek na Ficksburg in Mei en na Sandrivier om noordwaarts die opmars van Roberts te stuit en veg onder De Wet tot einde Julie in die OVS. Met De Wet se groep ontkom hy uit die Brandwaterkom op 30 Julie 1900 deur Golden Gate. As gevolg van 'n geskil in krygstaktiek besluit Olivier en sy 3 seuns om by die Transvaalse magte aan te sluit en op pad op 27 Augustus 1900 word hy veraai deur 'n vriend en val hy in die hande van die Queenstown Volunteer Rifles en word saam met sy seuns na Ceylon gestuur. Sy seuns was Veldkornet Jan Hendrik (29 jaar), Henning Jeremias (24 jaar) en Barend Daniel (18 jaar)

Daar bly hy tot 1902. Hy was baie teruggetrokke en dus nie baie gewild nie. Hy keer terug en word lid van die wetgewende vergadering in sy ou distrik. Hy was ook 'n perdeteler. In 1910 onttrek hy hom van die openbare lewe. Na sy aftrede woon hy by sy dogter op Rustenburg waar sy tweede vrou sterf. Hy sterf op besoek (met dogter) aan Volksrust en word daar met militêre eerbewys begrawe. Olivier was 2 keer getroud en het 15 kinders gehad.

Tiaan Jacobs