Gedurende 2001 was ek so gelukkig om 'n vinnige draai in Griekeland te maak en onder andere 'n uurtjie in Korinte deur te bring.
Die terrein waarop Antieke Korinte geleë was, was so vroeg as 1000 vC reeds bewoon. Die stad het sedert die 8ste eeu vC begin ontwikkel en het na 657 vC 'n eerste hoogbloei onder Periandros belewe. Dit is in 146 vC deur die Romeine verwoes en eers weer in 44 nC herbou tot die Bybelse Korinte wat Paulus in 51/52 nC besoek het.
Die stad het in die loop van sy geskiedenis verskeie kere onder invallers en aardbewings deurgeloop. Nadat dit die laaste keer in 1822 deur 'n vernietigende aardbewing getref is, is dit verlaat en in ruïnes agtergelaat. 'n Nuwe dorp, wat bekend staan as Nuwe Korinte, het 'n paar kilometer daarvandaan aan die kus ontstaan. Vandag is daar slegs 'n klein gehuggie langs die oorblyfsels van wat eens 'n florerende stad was.
Van die ou stad is weinig oor, eintlik net die geraamte van die agora, of markplein, met 'n paar bouvalle en die spore van 'n amfiteater daarnaas. Waarvan heelwat wel behoue gebly het, is die Akrokorinthos, die Korinte-heuwel, wat vroeër deel van die stad was en wat omskep is in een groot vesting met klipmure en -gange vanwaar die stad verdedig kon word. Bouvalle van verskeie ou geboue kom nog daarop voor, onder andere die oorblyfsels van 'n heiligdom van Afrodite. Die vesting kan besigtig word, maar tyd was daar nie genoeg nie. Dit is 'n lang en uitputtende stap om bo te kom. Griekeland kan geweldig warm word, selfs laat in September toe ons daar was, en dit maak so 'n onderneming nie aanloklik nie, veral nie vir iemand vir wie die Bybelse "three score and ten" reeds in die verskiet gelê het nie. En ons moes nog verder na Nafplio en Epidavros.
In die museum wat op die terrein opgerig is, word talle gebruiksvoorwerpe en kunswerke wat daar gevind en opgegrawe is, bewaar: beelde, mosaïekpatrone, kruike, vase en wat nog. In die kunsmuseums van Europa het ek geleer om enkele skilderye uit die oorvloed vir besondere aandag uit te sonder sodat dit in my geheue kon vasbrand. Korinte het my egter onkant gevang. Elke keer as ek voor 'n marmerbeeld stilstaan, dink ek: hier is nou een voorbeeld wat in my ou kop gaan nes maak.
Maar direk daarna vind ek 'n volgende een wat net so volmaak geproporsioneer is. Die ou Grieke, en in navolging van hulle die Romeine, was skynbaar nie soseer geïnteresseerd daarin om natuurgetroue afbeeldings te maak nie; vir hulle het dit eerder gegaan om volkome estetiese balans. En dié was daar in oorvloed. Sowat van statige vroulikheid en imposante manlikheid kon ek my nie voorstel nie.
Maar wat 'n mens byna nog meer op die verkeerde voet betrap, is die fyn afgewerkte en pragtig gevormde kruike en vase en bakkies en borde en lampe en ander voorwerpe wat vir alledaagse gebruik gefatsoeneer is. Hulle kom uit groot dieptes van die geskiedenis na jou. As jy een sien wat rondom die begin van ons jaartelling gemaak is, dink jy: ja dit is moontlik, hulle kon toe al die tegniek gehad het. Maar dan kom jy op 'n volgende een af wat uit 'n eeu voor Christus dateer, net so vaardig en kunstig uitgevoer. En die volgende oomblik is dit twee eeue voor Christus waarna jy kyk. En dan drie en nog later vier eeue voor Hom. En elke keer meesterlike vakmanskap, al verskil die style. En dan tref dit jou: ek kom uit 'n land waarin my mense nog maar vier en halwe eeu woon en hier kyk ek in agt-en-twintig eeue af!
Op 'n hoogtetjie langs die agora staan die fokuspunt van Antieke Korinte, die geraamte van die tempel van Apollo. Slegs sewe pilare op die oorspronklike fondament, met net 'n klein stukkie van die oorspronklike entablement daarop, het behoue gebly. Daar is iets tragies uitdagend in die manier waarop die ruïne hardnekkig die aanslae van aardskuddings en plunderaars getrotseer het, al is hy van sy oorspronklike glorie gestroop. 'n Mens kry die gevoel van 'n heroïese stryd met mens en natuur, wat jou nogal laat dink aan die bekende standbeeld van Laocoon en sy seuns wat in 'n titaniese worsteling gewikkel is met die reptiele wat hulle omklem.
Aan die voet van die tempel lê die stoa (suilegang) van wat oorspronklik 'n winkel¬kompleks was en die een sy van die agora vorm –
Foto Links. Daarvan is weinig te sien, slegs die gedeeltelik behoue boog oor die oorspronklike hoof¬ingang. Aan die teenoorgestelde kant van die agora is oorblyfsels van die Romeinse baddens wat oor die Peireense fontein gebou is
– Foto regs. Dit is van al die strukture die bes bewaarde. Met 'n bietjie herstelwerk kan die baddens trouens vandag weer in gebruik geneem word.
Dit was nogal 'n emosionele ervaring om jou in die agora te begewe, op 'n terrein waarnaas een van die vroegste Christelike gemeentes in die Weste ontstaan het. Die sinagoge waarin Paulus gepreek het, het waarskynlik net langs die agora gestaan. Sy volgelinge moes dus ook in die onmiddellike omgewing daarvan byeengekom het nadat hulle nie meer in die sinagoge welkom was nie. Van die sinagoge het alle spore verdwyn, maar van die besielde verkondiger van die nuwe Boodskap gelukkig nie.
Regs van die baddens was die verhoog van die rostrum waar verhore gehou is.
Daar is kenners wat meen dat dit die plek is waar Paulus voor die prokonsul Gallio verskyn het nadat die Jode hom daarvan aangekla het dat hy hulle probeer oorreed het om God op 'n ontoelaatbare wyse te vereer. (Die storie is in Handelinge 18 : 12 - 17 opgeteken). Andere meen egter dat dit elders in die agora moes gewees het. Ek kry nie altyd lekker vat aan Paulus nie; daarvoor vind ek hom te moeilik verstaanbaar. Tog het dit my asem weggeslaan toe ek besef dat ek my bevind in die onmiddellike omgewing waar dié besielde mannetjie beweeg het, dié briljante teoloog wat die Christelike godsdiens na die Weste uitgevoer en dit eiehandig laat oorlewe het. Miskien het my voete selfs getrap waar sy voetspore digby twee millennia gelede gelê het.
In 'n boek wat ek daar te koop gekry het, was 'n rekonstruksie van die agora soos dit in Paulus se tyd daar moes uitgesien het. Dit het nie veel gekos om my terug te verplaas in die glorie van die ou stad nie. Ek het stil gaan staan en my die terrein vol mense uit dié tyd voorgestel: meesal Grieke en Romeine met hulle antieke kleredrag. Maar tussenin ook mense van ander nasionaliteite met hulle vreemde tongvalle, want Korinte was 'n kosmopolitiese stad. En natuurlik ook groepies Jode met stowwerige oorklede en primitiewe skoeisel, aan die redekawel oor die nuwe denkbeelde van 'n vurige prediker wat te voet vanaf die hawe van Lechaion daar aangekom het. Enkele woorde het bekend geklink, woorde soos geloof, hoop en liefde. Dit het vir my van die heidense Korinte 'n gewyde ruimte gemaak.
'n Uur in Antieke Korinte is veels te kort. Nogtans het dié besoekie my 'n loergaatjie gebied in 'n geskiedenis en 'n tradisie wat my help vorm het duisende kilometers van waar 'n klein gemeenskappie 'n roerende mooi poëtiese uiteensetting van die liefde.
Diek van Wyk