19 Junie 2016

Jeffreysbaai - Strandstudie

Ons is bevoorreg om te woon hier waar die 2 de grootste kontinent naamlik Afrika, die grote Indiese oseaan ontmoet en hier word verskillende ekosisteme gevind, elk met sy eie unieke kenmerke.

Ekosisteme word omskryf as: " A system of communities of organisms, which interact with one another and their physical environment". Plankton, seewier, marine diere en organismes vorm 'n ingewikkelde voedselketting wat direk deur die mens beïnvloed kan word deur bv. groot oliestortings en onbeheerste visvangste.


Die volgende is voorbeelde van verskillende ekosisteme:
(1)  Rivier-mondings, waarvan ons twee het, die Seekoeirivier en die Kabeljouwsrivier
(2)  Duine, waarvan drie onderskei word, 1 ste, 2 de en 3 de duin
(3)  Water, met golwe, branders, strome en strominge, en die getye.
(4)  Strand-deel self, met rots-strande en sand-strande.


Duine:  waarvan drie onderskei word, 1 ste, 2 de en 3 de duin.
    Die duine-deel is ekonomies belangrik. Die eerste duin is die see se sand-stoor. Die see gaan weer die sand wat hy daar gebêre het, kom haal, al is dit tien jaar later. Jy bou níé huis op die eerste duin nie. Gaan kyk gerus by St. Francisbaai, Kabeljouws, en Boknes, hoe word der-duisende rand spandeer om huise te probeer red waar hierdie reël oortree is, en die sand onder die fondasies uitgespoel word. Wysheid is nie met geld te koop nie, en daar is nie pille vir dom nie.


Water, met golwe, branders, strome en strominge  en die getye.
     Die water-deel van die strand is lewensbelangrik. Ons is nie water-diere nie, die see is nie ons maat nie, jy word nooit mak vir die see nie, jy draai nooit jou rug op die see nie . . Dit gesê, ons het ‘n besonder veilige hoofswem-strand, en hoor selde van iemand wat in die moeilikheid geraak het. Elke brander bring ‘n klomp water strand-toe, en daardie water moet weer êrens heen, en so ontstaan sy-strome. Elke golf wat uit die diepsee nader kom word naderhand topswaar soos die water vlakker word, tot die brander vorentoe omval, en ons sê die brander breek.
     Hier plaaslik is elke sewende een gewoonlik ‘n grote, wat afgewissel word met ‘n aantal kleineres, tot die volgende grote. By die hoofstrand kom die branders in, parallel met die strand, terwyl by Supertubes die land ‘n skerp hoek maak na links, en daar kom die branders in met ‘n hoek van ± 45º. Die branderryers beskou dit as een van die beste regs-breek branderplekke in die wêreld.
     Die brander-ryer gemeenskap het die verskillende soorte golwe vreemde name gegee, met Kitchen Windows regs van die hoofstrand, geskik vir beginners, en dan oos-waarts Secrets, Magna-tubes, Boneyards, en om die draai, Super Tubes, met Albatros die naaste aan Kabeljouwsrivier-mond.


Uit: Life in our Oceans
Department: Environmental Affairs and Tourism.
Rots-strande en sand-strande.
    Die rots- en sand-strande en hulle waters is die woonplek van die organismes wie se huisies oral rondlê as skulpies en waarvoor Jeffreysbaai wêreldberoemd is. Daar is wêreldwyd mooi en wonderlike skulpe, maar ons het die grootste verskeidenheid. Aan die Oos-kus vloei die warm Agulhas-stroom, van die trope af, en aan die Wes-kus is dit die koue Benguelha-stroom wat noord vloei, en hier by ons kry ons al die soorte organismes uit albei streke, warm en koud.
    Dit is op die sand-strande, dat die see se detritus (puin) uitgespoel word, van kleine skulpies tot dooie walvisse. Die see-strome kan net plaaslik sirkuleer, of dit kan ook oor duisende kilometers tussen vastelande beweeg. Menslike aktiwiteite kan soms onbedoelde gevolge hê, soos die hawemuur wat in die see in gebou is by Marina Martinique, heel moontlik die rede is dat van toe af merkbaar minder skulpe uitspoel op Jeffreysbaai se strande.
    By die rots-strande waar altyd ook rotspoele is, word sones onderskei volgens die organismes wat daar voorkom, en wat bepaal word deur die aantal ure wat elkeen onder water is per dag, wat weer wissel met die laag- en hoog-water siklusse. Heel onder is die infra-getysone, wat nooit lig kry nie. Dan die cochlear-sone, laer balanoid-sone, die gemiddelde seevlak hoogte, dan die hoër balanoid-sone, die littorale sone en heelbo die spat-sone. In ons omgewing is nie rotse hoog genoeg vir spat-sones nie. Al ons rotse is toe met hoogwater. In die Tzitzikamma kom dit wel voor, en daar sien ‘n mens dat die see-voëls nes maak net bokant die spat sone teen die kranse.  
Van die organismes wat lewe in hierdie sones, behoort aan die Diere-Ryk, en die Filums Mollusca en Echinodermata. (Echinos is Grieks vir “krimpvarkie”, en hierdie soorte het stekels buite-om vir beskerming).
‘n Groot aantal van die organismes ken ons as slakke, en die meeste van hulle skei ‘n harde beskermende dop af, die skulp. Dit bestaan hoofsaaklik uit kalsium-karbonaat en chitien, wat in eierdoppe ook is.
Die grootste van hierdie soorte kom voor onder die seekatte. Hulle het ook skulpe, maar dit is intern, binne in die lyf. ‘n Voorbeeld is die nautilus, nr. 10,en die ramshoring.

Soms word leë skulpe beset deur ‘n klein soort krap, die kluisenaars-krap. (Engels hermit crab). Hy het ‘n sagte lyf, en soos hy groei moet hy soms uitkruip en rondskarrel tot hy ‘n groter skulp gekry het om hom weer vir ‘n rukkie te pas. Van die skaarsste skulpe, en wat versamelaars ten duurste voor betaal, word net gekry in die pense van sekere visse wat op groot dieptes gevang word. Skulpe met afwykings behaal ook goeie pryse, soos een wat se spiraal antikloks draai, terwyl die normale rigting kloksgewys is. Die skulp-name het ontstaan onder die groep wat tradisioneel handel dryf daarmee. Die pryse vir individuele soorte skulpe wissel ook volgens die skaarsheid daarvan. Van die skaarsstes is die jam-tertjies, gesiggies, dresdens en takbokkies.
Net soos die land-diere, kom die weekdiere ook al langs die voedsel-ketting voor, en kan ‘n mens die skulpe uitken volgens hulle vorm.
‘n Skulp met ‘n ronde gat, soos ‘n alikreukel, nr. 2
se eienaar was ‘n herbivoor, en het plante ge-eet. Die land-slakke val onder hierdie
groep.
Die skulp met ‘n tuitjie voor, se baas was ‘n karnivoor. Onder hulle tel die ploeg-skulpe, soos nr. 5, wat aas op dooie jellievis en bloublasies op ons strande.





Die konusse, nr. 6, het ‘n baie giftige angel, wat ook deur die tuitjie gesteek word om sy prooi mee dood te maak. Van hulle, met neurotoksiese gif kan dodelik wees vir mense.
 

Die bi-valvia met die dubbel skulpe,  soos sand-mossels, nr. 9
en 12, het buisies om hul kos uit die see-water te filtreer. Dit is vr hulle dat ‘n mens moet versigtig wees tydens ‘n rooi gety.






Die klip-mossels,  r. 7, wat so vasgesuig op die rotse sit met laagwater, is ook herbivore, wat met hoogwater, as hulle toe is met water, en veilig voel, rondbeweeg en wei. As een mooi bekyk word waar hy sit, kan sy weiveld uitgeken word, rondom hom.


Skulpies soos die gesiggie, nr 4 en pampoentjie, nr. 8, behoort nie tot die slak-familie nie, maar die Echinoderms.










Skulpe word al vir honderde jare kommersieel ontgin. Die Kasteel in Kaapstad is gebou met sement wat gemaak is deur skulpe te brand. Volstruis- en hoender-boere voer hulle voëls skulp-gruis, ter wille van sterk eierdoppe. In die dae toe melkbekers nog doilies op gekry het, om die vlieë uit die melk te hou, was die varkies van Super Tubes se strand baie gewild omdat hulle mooi, glad en sterk was, en nie sommer gebreek het as gaatjies met ‘n els gemaak is nie. Die groot gladde gespikkelde kauries van Mosambiek was weer gesog om gaatjies in kouse mee te stop. Hier is die maak van ornamente van skulpe, vir verkoop aan toeriste, ‘n hele bedryf. Hoër op in Afrika, is lede van die Kaurie skulpie-familie vroeër gebruik as geld.     
    Skulpe maak handige gebruiksartikels, soos servetringe, en blakers vir kerse. Die oes van perlemoen en tjokka, vir die restaurant-bedryf, is miljoene-rand bedrywe. Die skulp-hope langs ons kuste, vertel ‘n verhaal van die benutting van alikreukel en mossels al van die Strandlopers se dae af. Versierings in huise wissel van kleurvolle korale in potte op die vloer, tot skaars eksotiese skulpe in vertoonkaste of bottels vol van ons eie soorte. Soms kry ‘n mens stringe ingerygde pampoentjies wat van die dak af hang, of ‘n stoep-muur wat toegeplak is met kammossel.
    Die versamel van skulpe, see-kos en vis-aas is onderhewig aan regulasies, beperkings en kwotas. Permitte is beskikbaar by kantore van see-visserye, natuurbewaring en poskantore.
    Vir die klassifikasie van organismes is daar 7 hoof-afdelings, die Ryk, Filum, Klas, Orde, Familie, Genus en Spesie. ‘n Mens kan die volgorde, vir jouself help onthou, deur die sinnetjie : Rooi Fakkels Kan Ons Familie Goed Sien. Die laaste twee, vorm die wetenskaplike naam van die organisme.
   By voorbeeld die bobbejaan se klassifikasie lyk so:
 Dierde-Ryk, Filum Chordata (werweldiere), Klas Mammalia (soogdiere), Orde Plasentale soogdiere, (ander ordes is buideldiere soos kangeroes, en eendbekdiere), Familie Primate, Genus Papio, spesie Ursinus.
    Lede wat aan dieselfde spesie behoort, kan paar, en ‘n vrugbare nageslag voortbring. Maar perde en donkies behoort aan dieselfde genus, equus, maar nie spesie nie. Hulle kan paar, en muile produseer, maar die muile is steriel en kan nie verder voortplant nie. Net so het hulle leeus en tiers ook al probeer kruis, met dieselfde gevolg.                            
Geskryf deur: Hoffie Williams 2016
(Illustrasies vanaf skildery gemaak spesiaal vir die Skulpiemuseum deur 'n plaaslike kustenaar - Nicolene Gericke)