08 Mei 2016

Verwesenliking van ‘n Droom

Dit kan 'n uitdaging wees om dokumentasie en familiegeskiedenis vir die nageslag te bewaar omdat groot genoeg ruimte nie altyd beskikbaar is vir hierdie doel nie.

Toewyding, deursettingsvermoë en 'n passie vir geskiedenis ( "History" = "his + story") het gelei tot 'n unieke en praktiese oplossing vir die uitstal van 'n groot hoeveelheid inligting in 'n beperkte ruimte. Besonderhede oor die vernuwing en veranderinge, wat oor jare by 'n geskiedkundige kerk plaasgevind het, het so behoue gebly asook die bewaring van 'n kosbare familiegeskiedenis.

Die NG Moederkerk in Stellenbosch.
Foto : Internet


Hierdie projek by die NG Moederkerk in Stellenbosch - die tweede oudste gemeente in Suid-Afrika, wat reeds in 1686 gestig is - het gelei tot die beplanning  en uitvoering van die "Boumuseum" wat voltooi is aan die begin van 2016.  Die besondere kerkgebou is in 1863 ontwerp deur die argitek Carl Otto Hager.

In hierdie kerk was die Museum-onder-die-Orrel asook die Argief-op-die-Galery reeds gevestig en deel van toeriste besienswaardighede. Daar was aanvanklik geen gedagte om ook die suidelike orrel-galery te ontwikkel nie maar die sameloop van verskeie omstandighede het gelei tot die ontstaan van die "Boumuseum".

Die volgende drie gebeure het die idee ‘n hupstoot gegee:
  1. Ses oortollige skilderye wat nuttige stoorruimte opgeneem
  2. Verskeie bouprojekte se talle lêers met die fynste besonderhede 
  3. Bo, in die kerktoring, is 'n groot hoop dokumente en ander voorwerpe gevind wat oor jare daar gestoor is. 
Navorsing, oor die kunstenaars en kunswerke van die ses oorspronklike skilderye, lei tot die verdeling van die skilderye in twee duidelike groepe - die 1814 en die 1863 kerk. Met die bystand van 'n grafiese kunstenaar en portretramer, word twee groot muurpanele afsonderlik van elke periode gemaak wat teen die suidelike orrelmuur gehang word.
    Die beplanning van die museum was 'n uitgerekte proses want met die steil toringtrap wat ‘n redelik oordonderende rol speel was die oplossing uiteindelik om ‘n driehoekige uitstalruimte te bou wat saamsmelt met die helling van die trap.

    
    Foto: Johan Krige

    Die afwisseling in vlakke en vorms binne-in die kas was geskoei op die idee van twee helftes  en vertikaal is die kas verdeel in die solder, die kamer en die vloergedeeltes terwyl die teks die  simmetriese uitleg sterk aanvul.

    Die een gedeelte handel oor die argitek Carl Otto Hager, wat die kerk in 1863 ontwerp het en die ander gedeelte ook oor kunstenaar Leo Theron wat verantwoordelik was vir die treffende gekleurde vensters in die kerk. (Volgens Wikipedia het laasgenoemde die volgende van gekleurde glas gesê: ..."the Prism through which we see into eternity ...").

    'n Kosbare versameling familie dokumente is deur Otto Hager, van Douglas, aan die Bouwerk Museum oorgedra en in die uitstalkas is daar 'n saamgestelde album wat besondere dokumente van die Hager familie bevat. Hoewel hierdie album nie toeganklik is vir die algemene publiek nie, kan iemand wat wel daarin belang stel, met die Kriges reël vir 'n begeleide toer na die museum sodat die album besigtig kan word.

    Die twee toonaangewers by die bouprojekte was Charl Moller en Johan Krige en dit was ook dieselfde twee persone wat, met ander geesgenote, se samewerking op 21 Julie 1999 die Historiese Bediening in die lewe geroep het.

    INWYDING van die BOUWERK MUSEUM
    18 Februarie 2016
    MOEDERGEMEENTE, STELLENBOSCH.

    18 Februarie 2016
    'n Ware bewys dat met toewyding en geesdrif 'n droom bewaarheid kan word om iets baie kosbaars, in 'n betreklike klein ruimte, te skep wat sal verseker dat inligting vir geslagte wat kom behoue kan bly.



    Inligting deur Johan Krige
    johan.krige@caledonvilla.co.za
    (verkort)